Wit mense het niks te vrees, sê Malema

Julius Malema, leier van die EFF, meen wit mense in Suid-Afrika het niks te vrees nie en sy party sal hulle ook bevry.
Julius Malema, leier van die EFF, meen wit mense in Suid-Afrika het niks te vrees nie en sy party sal hulle ook bevry. (Foto: Gert van der Westhuizen)

Die EFF moet aan wit mense in Suid-Afrika vertel hulle het niks om te vrees nie, sê Julius Malema, leier van dié party.

Hulle moet eerder bly wees oor die bestaan van die EFF omdat die EFF ook aan hulle vryheid sal gee, het Malema Sondag in Boksburg gesê toe hy die tweede sitting van sy party se derde “parlement vir die mense” met ’n toespraak van bykans ’n uur en ’n half afgesluit het.

Malema sê geen gemeenskap moet in die veldtog vir vanjaar se munisipale verkiesing buite bereik vir die EFF wees nie.

Die EFF moet sy basis konsolideer en dan elders vir steun soek.

“Jy moet net nie jou basis vernietig nie. Daar moet selfs met wit gemeenskappe gepraat word omdat hulle bang gemaak word met ’n bedreiging wat nie bestaan nie,” het Malema gesê in wat waarskynlik ’n verwysing na bewerings van ’n “wit volksmoord” is.

“Ons verkondig ook die vryheid van wit mense agter hul hoë mure. Hulle kan nie eens hul tuine geniet nie, want hulle kruip weg agter hoë mure.

“Maar as almal in Suid-Afrika ekonomiese vryheid het, sal hoë mure nie nodig wees nie.

“Dit is nodig dat ons aan wit mense vertel hulle het niks om te vrees nie. Hulle moet ook bly wees oor die bestaan van die EFF, want die EFF sal aan hulle vryheid gee.

“Hulle moet aansluit by die struggle om die bronne van die land onder alle Suid-Afrikaners te verdeel. Hulle is bang omdat hulle weet mense leef in armoede, het nie grond nie en neem nie aan die ekonomie deel nie.

“Hulle moet aansluit by die struggle om te verseker dat geld nie op korrupsie vermors word nie, maar gebruik word vir infrastruktuurontwikkeling in gemeenskappe soos Alexandra, KwaMashu en Guguletu.”

As toestande in sulke gemeenskappe beter is, sal veiligheid ook volgens Malema beter wees.

Pleks van om soos die DA die EFF tot vyand nommer een te verklaar, moet korrupsie en armoede tot vyand nommer een verklaar word.

Malema wil hê dat mense wat vir maatskaplike toelaes kwalifiseer, vrygestel word van water- en elektrisiteitstariewe.

Hul koste vir water en elektrisiteit kan deur rykes betaal word. Dié groep sluit wit mense en politici in. Wit mense kan meer vir water en elektrisiteit betaal omdat hulle onder apartheid baie voorregte gehad het wat ander gemeenskappe nie beskore was nie, sê Malema.

Malema was Sondag oudergewoonte op sy stukke en het heelwat grappies gemaak gedurende sy toespraak wat uit die vuis gelewer is. Hy het selfs die personeel van die hotel waar die EFF saamgetrek het vir hul werk bedank en agterna vir foto’s saam met hulle geposeer.

Malema het oor verskeie kwessies gepraat hoewel vanjaar se verkiesing die belangrikste deel van sy toespraak uitgemaak het.

Hy het gevra vir wetgewing wat Suid-Afrikaners outomaties as kiesers registreer sodra hulle 18 jaar oud word. Hy wil ook ’n einde sien aan tussenverkiesings wat verdeling veroorsaak en te veel geld kos.

Daar moet net elke vyf jaar vir plaaslike, provinsiale en nasionale verteenwoordigers gestem word.

Malema het weer daarop gewys dat vanjaar se verkiesing van die allergrootste belang vir die EFF is. “Dit is óf ’n oorwinning óf die dood.”

Malema sê as hy tronkstraf opgelê word vir die onwettige afvuur van ’n wapen, sal hy appelleer en steeds in die parlement dien totdat ’n vonnis bekragtig is.

As hy wel gevonnis word en nie in die parlement mag dien nie, sal dit nie ’n verskil maak nie.

“Ek het by die struggle aangesluit om vryheid aan die mense van Suid-Afrika te gee, nie om in die parlement te wees nie. Niemand sal my uit die revolusie kan verwyder nie. Die parlement is nie die revolusie nie.”

SPELETJIES VANDAG

CTA