
Die probleem in hierdie saak is nie die kwessie rakende oudpres. Jacob Zuma se vervolging nie, dis oor die integriteit en onafhanklikheid van die nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV) en Zuma se poging om hom te beïnvloed.
Dit was adv. Wim Trengove SC, vir Freedom Under Law, se slotbetoog Woensdag in die konstitusionele hof in Johannesburg.
Trengove het gesê deur adv. Shaun Abrahams, hoof van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), in sy huidige pos te hou, maak die Grondwet "belaglik".
Abrahams se hofstryd om sy pos as NDOV te behou, het Woensdag in alle erns hier begin.
Hy appelleer teen 'n volbank van die hooggeregshof in Pretoria se beslissing in Desember verlede jaar dat hy sy pos moet ontruim omdat sy aanstelling onwettig was.
Dit volg nadat die hof gelas het dat Zuma, wat Abrahams aangestel het, nie by magte was om Abrahams se voorganger, adv. Mxolisi Nxasana, te verwyder of te skors nie omdat hy (Zuma) self deur moontlike korrupsieklagte in die gesig gestaar word.
Nxasana is op 1 Oktober 2013 as NDOV aangestel.
Ná interne konflik in die NVG het Zuma in Junie 2014 'n kommissie van ondersoek na Nxasana se bevoegdheid aangestel en hom hangende die uitslag van die ondersoek geskors.
In Augustus 2014 het Nxasana 'n dringende aansoek in die hooggeregshof in Johannesburg gebring om sy skorsing tersyde te stel, maar hy het 'n ooreenkoms met die president bereik voordat hy die aansoek deurgesien het.
In Mei 2015 het Nxasana sy pos ontruim nadat hy 'n goue handdruk van R17,3 miljoen uit die publiek se beursie aanvaar het.
Abrahams was sy plaasvervanger.
"Hier het ons te doen met 'n president wat die integriteit en onafhanklikheid van die NDOV-posisie probeer ondermyn het, en daarmee weggekom het," het Trengove benadruk.
Adv. Geoff Budlender SC, namens die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet (Casac), het aangevoer die feit dat Abrahams sy besluit oor of hy Zuma gaan vervolg of nie, eers op 15 Maart vanjaar (ná sy appèlbeslissing) bekend gaan maak, is disrespekvol teenoor die hof.
"Die vervolging van 'n voormalige president (een van die sake waaroor Abrahams tans moet besluit) is 'n groot saak. Dit is belangrik dat die publiek vertroue in die persoon het wat hom (Zuma) vervolg," aldus Budlender.
Adv. Matthew Chaskalson SC, wat namens Corruption Watch optree, voer weer aan Nxasana het nie vrywillig uit sy pos bedank nie, hy is "konstruktief verwyder".
Hy het aangevoer wanneer 'n president 'n NDOV ('n staatsamptenaar) "uitkoop", hy dit slegs kan doen deur sy staatspensioen uit te betaal.
Adv. Michelle le Roux, vir Nxasana, het volgehou die goue handdruk was nie 'n omkooptransaksie nie en sê daar is voor die ooreenkoms 'n smeerveldtog teen haar kliënt gedryf wat hom verhoed het om sy werk behoorlik te doen.
Die vervolging van 'n voormalige president is 'n groot saak. Dit is belangrik dat die publiek vertroue in die persoon het wat hom vervolg.
Sy sê die R17,3 miljoen is nie "sommer uit die lug gegryp nie, dis die waarde van sy kontrak" en volg "ná alles wat my kliënt moes verduur".
Adv. Hilton Epstein, vir die NVG en Abrahams, het volgehou daar is geen aanduiding dat Abrahams nie vir sy pos geskik is nie.
Die NVG het appèl aangeteken teen die beslissing om Abrahams se aanstelling as hoof van die NVG ongeldig te verklaar en sy aanstelling as NDOV tersyde te stel op die gronde dat daar nie 'n vakante pos bestaan het waarin Abrahams aangestel kon word nie," lui die hofstukke.
Die NVG voer aan Abrahams is wettig in sy pos aangestel omdat Nxasana bereid was om sy pos te verlaat indien hy ten volle vergoed word.
Luidens die NVG se betooghoofde het Nxasana se bedanking 'n vakante pos gelaat, ongeag wat Zuma oor die pos besluit het of wat Nxasana se motivering was om te bedank.
Die NVG voer aan dat Abrahams wettig aangestel is in 'n pos wat geskep is teen die einde van dr. Silas Ramaite se tydperk as waarnemende NDOV.
Volgens Epstein mag Abrahams 'n adjunkhoof afvaardig om die besluit oor Zuma se vervolging te hanteer.
Pres. Cyril Ramaphosa kan ook besluit om 'n nasionale adjunkdirekteur vir openbare vervolging aan te stel vir hierdie doel.
Ramaphosa het Vrydag die oudpresident se appèlsaak teruggetrek waarin Zuma, toe hy nog president was, teen die uitspraak dat Abrahams sy pos moet ontruim, appelleer.
















