
Studente aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) is woedend oor die inhegtenisnemings wat Dinsdagoggend by die kampus gemaak is.
Daar was vroeg Dinsdagoggend botsings tussen polisielede en studente waar hulle betoog het ná Maandag se aankondiging deur dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderrig en opleiding, oor klasgeld vir 2017.
Sowat 31 studente is in hegtenis geneem omdat hulle 'n hofinterdik van die universiteit verontagsaam het deur mense te keer om die universiteitsterrein te betree.
Wits se die studenteraad het Maandag gesê daar is "baie ongelukkigheid" onder studente oor die klasgeld-aankondiging en dat hulle beoog om Dinsdag met hul protesaksie voort te gaan.
Nzimande het Maandag aangekondig dat universiteite self die verhoging in klas- en ander geld sal bepaal, maar dat dit nie hoër as 8% mag wees nie.
Van die studente het Dinsdag met stokke en brandblussers rondgeloop.
Die studenteraad se sekretaris-generaal sê dit is walglik dat die polisie jong swart vroue Dinsdagoggend "mishandel" het. Die vroue het glo gehuil en is hardhandig hanteer voordat hulle in hegtenis geneem is.
Lt.kol. Lungelo Dlamini, provinsiale polisiewoordvoerder, sê hierdie stellings is so ver hy weet net gerugte.
'n Studenteleier sê dat hulle die universiteit onregeerbaar gaan maak totdat hul comrades by die Hillbrow-polisiestasie vrygelaat word.
"Hulle moenie dink dit gaan ophou nie," sê sy.
Die studente gaan nou 'n strategie uitwerk oor hoe om die situasie verder te hanteer.
Die media is ook gedreig en geen kameras is toegelaat nie. Een student het gesê die media respekteer nie hul beweging nie.

















