Regiments Capital onder vergrootglas

Hardeskywe. Rekenaarbedieners. Oorspronklike afskrifte van dokumente. Elektroniese rekords. Grootboekrekeninge.

Dit val alles onder die lang lys bates van Regiments Capital waarop daar ingevolge 'n spesiale hofbevel beslag gelê kan word om die ondersoek na die maatskappy se bande met die Gupta-familie en verdagte transaksies met die Bank van Baroda te help.

Volgens die Daily Maverick het die ondersoekende joernalistieke eenheid Scorpio bevestig dat die bevel in werking getree het by Regiments Capital se kantore in Illovo, Johannesburg.

Die soektog na moontlike bewyse is tot werksure beperk en sal onder toesig van 'n hofaangestelde onafhanklike toesighoudende prokureur geskied.

Regiments Capital se direkteurs en eienaars is ook opdrag gegee om forensiese ondersoekers toegang te gee tot die maatskappy se elektroniese netwerk.

Dit sluit in rekenaars en skootrekenaars, tablette, draagbare hardeskywe en geheuestokkies, CD's, DVD's, stiffy- en floppie-skywe, zip-drywe, data-stoorders (data cartridges), selfone en SIM-kaarte.

EWN berig Transnet se interne ouditkomitee het intussen bevestig dat daar moontlike ongerymdhede was in hul transaksies met Regiments Capital.

Regiments Capital en Trillian Capital, wat albei noue bande met die omstrede Gupta-familie het, het onderskeidelik R191 miljoen en R93 miljoen van Transnet ontvang sonder dat hulle enige kontrakte met die staatsinstelling gehad het.

Ondersoekers het vantevore ook op gedupliseerde fakture, vooruitbetalings, teenstrydige bedrae wat vir uurlikse werk geëis is en 'n gebrek aan stawende dokumente vir uitgawes afgekom.

SPELETJIES VANDAG

CTA