Staak die belonings in verband met die opsporing van Ajay Gupta, vra die minister van polisie. Dit stel die verdagte, persone wat soos hy lyk én die publiek in gevaar.
Die minister het Saterdagaand dié verklaring uitgereik nadat sakelui al belonings van gesamentlik byna R2 miljoen uitgeloof het vir inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming van onder meer Ajay, Atul en Tony Gupta, asook Duduzane Zuma.
Hulle word gesoek in verband met hangende klagte van bedrog en korrupsie in die Vrede-suiwelplaaskwessie.

Die sakevrou Magda Wierzycka, uitvoerende hoof van die batebestuurder Sygnia, het Saterdag op Twitter aangekondig dat sy 'n beloning van R500 000 aanbied.
Nóg 'n sakeman, Phiwa Nkambule, uitvoerende hoof van die maatskappy Riovic, het gereageer op Wierzycka se twiet en gesê dat hy 'n bykomende R400 000 aanbied.
Saam met die private ondersoeker, Paul O'Sullivan, en 'n paar kleiner bydraes, staan die beloning al op R1,8 miljoen.
"Suid-Afrika val onder wetgewing en ons raai die publiek af om eie reg te gebruik. Die kontantbelonings vir die vang van mnr. Gupta is nie deur die regering goedgekeur nie. Suid-Afrika is nie die Wilde Weste nie," sê Fikile Mbalula, die minister van polisie.
"Indien die polisie besluit om 'n beloning uit te loof, sal dit gedoen word met al die nodige veiligheidsmaatreëls in plek."
Luidens die verklaring het inwoners aan die polisie bevestig Ajay is vooraf gewaarsku oor die lasbrief vir sy inhegtenisneming by die landgoed in Saxonwold, want hy is glo vort net voordat die polisie op sy drumpel aangeland het.
Die Valke het Dinsdag en Woensdag met Ajay se prokureurs kontak gemaak en gevra hulle moet help om die verdagte na die Valke se kantoor te bring.
Hy is reeds as 'n voortvlugtige verklaar.
"In hierdie stadium het ek die polisie aangesê om seker te maak dat geen van die verdagtes uit die land gesmokkel word nie. Ek is ook pynlik bewus van verskeie smokkelroetes deur ons grense . . . Hy kan hardloop, maar hy kan nie wegkruip nie."
Die minister raai die publiek af om enige privaatinhegtenisnemings te doen en sê hulle moet eerder 08600 10111 skakel om inligting oor verdagtes te verskaf.
"Om die verdagte te help om die polisie te ontduik is 'n misdaad," het Mbalula ook benadruk.
Van die 13 verdagtes in die suiwelplaaskwessie was agt reeds vandeesweek in die hof, terwyl vyf op vrye voet is.

















