Valke ‘bly soek Ajay Gupta in SA’

Die Valke het nog nie die voortvlugtige Ajay Gupta opgespoor nie en die beloning van R100 000 vir sy inhegtenisneming bly staan.

"Ons aanvaar hy is steeds in Suid-Afrika, al berig van die nuusmedia dat hy al tien dae gelede op 'n vlug van Johannesburg na Dubai is. Tensy ons eie inligting dit bewys, aanvaar ons hy is in Suid-Afrika en sal ons hom bly soek," sê brig. Hangwani Mulaudzi, die Valke se nasionale woordvoerder.

Ajay word gesoek in verband met die Vrede-suiwelprojek. Agt beskuldigdes het vandeesweek in verband met dié saak in die streekhof in Bloemfontein verskyn en sewe van hulle is op borgtog van altesame meer as R800 000 vrygelaat.

Meer as R250 miljoen is betrokke by die opspraakwekkende bedrogverhoor. Luidens die klagstaat het R14,5 miljoen van die geld wat na die suiwelprojek moes gaan in die Gupta-verwante maatskappy Oakbay se rekeninge beland.

Onder die beskuldigdes wat reeds in die hof verskyn het, is Varun Gupta (32), 'n direkteur van Oakbay en 'n neef van die Gupta-broers.

Eyewitness News het Vrydag berig luidens amptenare van die O.R. Tambo-lughawe by Johannesburg werk hulle saam met die Valke om vas te stel waar Ajay is. Leigh Gunkel-Keuler, woordvoerder van die lughawe, het gesê volgens hul verslae het Ajay Suid-Afrika tien dae gelede op 'n Emirates-vlug na Dubai verlaat.

"As hy terug in Suid-Afrika is, kon hy dit deur 'n ander toegangsroete gedoen het."

Mulaudzi sê totdat die Valke se eie inligting wys dat Ajay Gupta die land verlaat het, soek hulle hom in Suid-Afrika.

SPELETJIES VANDAG

CTA