Die Valke het Donderdag op nog lede van die onderwêreld toegeslaan en nog drie van vier verdagtes in verband met verskeie klagte soos dwelmhandel en ontvoering vasgetrek.
Kapt. Lloyd Ramovha, Valke-woordvoerder, het in 'n verklaring gesê die groep, tussen die ouderdomme van 29 en 44 wat in Bryanston en Jukskeipark in Johannesburg in hegtenis geneem is, word met 'n reeks misdrywe verbind.
Netwerk24 het betroubaar verneem die een verdagte is 'n voormalige lyfwag van Radovan Krejcir, die omstrede Tsjeggiese misdadiger.

Ramovha noem in sy verklaring " 'n 38-jarige beweerde handlanger (wat) met die veiligheidsbedryf in die onderwêreld verbind (word)".
"Hy was na bewering 'n lyfwag van 'n omstrede figuur uit die onderwêreld wat tans opgesluit is vir verskeie ernstige oortredinge," lui die verklaring.
Ramovha wou by navraag nog nie die naam, wat Netwerk24 het, bevestig nie, maar het bevestig dat die 38-jarige man wél met Krejcir verbind word.
'n Verskeidenheid dwelms en toerusting wat vir misdaad gebruik kan word, is gekonfiskeer.
Die 29-jarige Vishalin Dookie (29) het reeds Donderdag vlugtig in die hof verskyn, nadat hy Woensdagaand vasgetrek is. Hy sal op 24 Mei weer in die hof verskyn wanneer hy om borgtog sal aansoek doen.
Die oorblywende drie verdagtes se name sal bekend gemaak word sodra hulle Vrydag in die landdroshof in Randburg op aanklagte van rampokkery, geldwassery, dwelmhandel, die besit van steroïede, die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, sowel as vir ontvoering, verskyn het.
Bheki Cele, minister van polisie, het Dinsdag in sy begrotingsrede die polisie aangemoedig om dwelmhandel en die vervaardiging van dwelms as 'n prioriteit te beskou, omdat dit misdaad teen vroue en kinders dryf.

















