Een van die ruimtevaarders van die VSA se tweedelaaste Apollo-vlug na die maan is vandeesweek in die ouderdom van 87 dood.
Ken Mattingly is in 1966 deur Nasa gekies as een van 19 ruimtevaarders vir sy Apollo-vlugte. Hy sou ook aan Apollo 13 deelgeneem het, maar is 72 uur voor die lansering weens blootstelling aan Duitse masels onttrek.
Nasa het Dinsdag in 'n verklaring gesê die oorsaak van Mattingly se dood is nog nie bekend nie.

Hy het ook in 'n ondersteunende rol in die Apollo 8 en 11 se vlugte gedien en het bygedra tot die ontwikkeling en toetsing van ruimtepakke vir dié reeks vlugte.
Bill Nelson, Nasa-administrateur, het Donderdag gesê Amerika het een sy helde, wat 'n sleutelrol in die Apollo-program gespeel het, verloor.
Sy loopbaan het in die 1960's as vlieënier in die vloot begin, waarna hy hom by die lugmag se skool vir ruimtenavorsing aangesluit het.
Met Apollo 16 was hy in die tuig wat om die maan gewentel het terwyl die res van die bemanning op die oppervlak was.
Van sy belangrikste bydraes was moontlik met Apollo 13, waar hy agtergebly het en gehelp met die besluitneming wat daartoe gely het dat die bemanning veilig na die Aarde kon terugkeer ná 'n ontploffing, berig CNN.











