Brittanje is oorgehaal om 'n uitstekende lanseerplek vir klein satelliete te word ondanks die mislukking van sy eerste poging om satelliete in 'n wentelbaan te plaas.
'n Virgin Orbit-vuurpyl met nege satelliete wat Maandag vanaf 'n straler gelanseer is, kon weens "'n anomalie" nie 'n wentelbaan bereik nie.

Grant Shapps, Britse minister van ekonomiese sake, energie en nywerheidstrategie, sê nog 'n poging sal volg.
Dan Hart, uitvoerende hoof van Virgin Orbit, sê die groep hoop om die sending te hervat sodra 'n volledige ondersoek na die mislukte lansering afgehandel en dit behoorlik geëvalueer is.
Die vuurpyl is suksesvol oor die Atlantiese Oseaan gelanseer vanaf 'n Boeing 747, wat van Newquay in Cornwall in Suidwes-Engeland opgestyg het. Dit staan as 'n horisontale lansering bekend. Die vuurpyl, LauncherOne, het 'n snelheid van 17 700 km/h bereik voordat sy stelsels misluk het.
Verskeie Europese ruimtesendings het die laaste tyd 'n terugslag gehad.
Die lansering van 'n Vega-C-vuurpyl, wat in Italië gebou is, het verlede maand in Frans-Guiana misluk. Die Europese Ruimteagentskap se Ariane 6-lanseerder vir groot satelliete moet nog voltooi word.
'n Perseel op die Skotse Shetland-eilande word spesifiek ontwerp vir die lansering van vuurpyle en Swede en Noorweë beoog ook om hul eie vuurpyle te lanseer.
Virgin Orbit, wat gedeeltelik besit word deur die Britse miljardêr Richard Branson, het sedert 2020 vier suksesvolle ruimtesendings vanaf sy basis in die Verenigde State geloods. Die Newquay-sending is sy tweede mislukking. -Reuters
















