Gil Gerard, die akteur wat in die laat 1970’s wêreldwyd onder televisiekykers bekend geword het as kaptein William (Buck) Rogers in die TV-reeks Buck Rogers in the 25th Century, is Dinsdag oorlede.
Sy vrou, Janet, het die nuus op sosiale media bekend gemaak.
“Vroeg vanoggend het Gil, my sielsgenoot, sy stryd teen ‘n seldsame en baie aggressiewe vorm van kanker verloor. Van die oomblik toe ons besef het iets was verkeerd tot met sy dood vanoggend, was net ’n kwessie van dae. Ongeag hoeveel jare ek ook al saam met hom sou kon deurbring, dit sou nooit genoeg gewees het nie. Hou diegene wat jy het, styf vas en wees vurig lief vir hulle,” het sy geskryf.
Gerard was 82. Suid-Afrikaners het hom in die vroeë dae van TV in die land leer ken in die oorgeklankte reeks wat hier net as Buck Rogers bekend was en gehandel het oor die avonture van ’n ruimtevaarder wat weens ’n fratsongeluk 504 jaar lank bevrore in die ruimte deurgebring het voordat hy in die jaar 2491 ontwaak.
Janet het later nog ’n boodskap geplaas waarin sy gesê het sy was aan haar man se sy toe hy gesterf het. Sy het ook ’n boodskap geplaas wat Gerard self geskryf het om ná sy dood te deel.
“As jy hierdie lees, dan het Janet dit geplaas soos ek haar gevra het om te doen. My lewe was ’n wonderlike reis. Die geleenthede wat ek gehad het, die mense wat ek ontmoet het en die liefde wat ek gegee en ontvang het, het my 82 jaar op die planeet diep bevredigend gemaak.
“My reis het my van Arkansas na New York en Los Angeles geneem, en uiteindelik na my huis in Noord-Georgia saam met my wonderlike vrou van 18 jaar, Janet. Dit was ’n wonderlike reis, maar onvermydelik een wat tot ’n einde kom, soos myne nou het.
“Moenie jou tyd mors met dinge wat jou nie opgewonde maak of vir jou liefde bring nie.
“Sien jou êrens daar buite in die kosmos.”
















