Internasionaal

Dodelike geweld ná verkiesing in Uganda

Pres. Yoweri Museveni van Uganda.
CHOGM London 2018 - Day 5 Pres. Yoweri Museveni van Uganda. (Jack Taylor/Foto: Getty Images)

Minstens sewe mense is oornag in Uganda dood weens geweld ná die nasionale verkiesing, het die plaaslike polisie Vrydag gesê.

Volgens Uganda se verkiesingskommissie het die 81-jarige pres. Yoweri Museveni meer as 75% van die stemme op hom verenig. Minstens 59% van die stemme is al getel.

Dus sal Museveni na verwagting vir ’n vyfde dekade die septer swaai.

Sy teenstander, die opposisieleier en gewilde sanger Bobi Wine, het sowat 21% van die stemme gekry, terwyl die oorblywende stemme tussen ses ander kandidate verdeel is.

Bobi Wine en sy vrou, Barbie Kyagulanyi, by die Oscars in 2024.
96th Academy Awards Bobi Wine en sy vrou, Barbie Kyagulanyi, by die Oscars in 2024. (Christina House/Foto: Getty Images)

Die verkiesingsveldtog is deur botsings by opposisiebyeenkomste en volgens die Verenigde Nasies deur wydverspreide onderdrukking en intimidasie gekenmerk.

Hoewel die verkiesing Donderdag grotendeels vreedsaam verloop het, het geweld later in die nag in die dorp Butambala, sowat 55 km suidwes van die hoofstad, Kampala, losgebars.

Lydia Tumushabe, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, sê ondersteuners van die opposisie het met kapmesse toegesak op ’n polisiekantoor en ’n sentrum waar stemme getel word. Sy sê die polisie moes uit selfverdediging optree en 25 mense is in hegtenis geneem.

Muwanga Kivumbi, ’n LP, betwis Tumushabe se weergawe en sê minstens 10 mense is omstreeks 03:00 in sy huis doodgeskiet terwyl hulle op die uitslae gewag het. Volgens hom het veiligheidsmagte die voordeur oopgebreek en in ’n motorhuis losgebrand.

Die polisie sê egter hulle is nie bewus van ’n voorval by sy huis nie. Reuters kon dit ook nie onafhanklik bevestig nie.

Die verkiesing word wyd beskou as ’n toets van Museveni se politieke mag. Museveni, wat sedert 1986 aan bewind is, verwag om 80% van die stemme te wen “as daar nie geknoei word nie”.

Wine het bewerings van grootskaalse bedrog gemaak. Toegang tot die internet is ook onderbreek.

Sy party, die National Unity Platform, sê veiligheidsmagte het sy woning in Kampala omsingel en hom effektief onder huisarres geplaas. Die polisie sê hulle is ook nie daarvan bewus nie, maar AFP se joernaliste het ’n militêre voertuig en polisielede buite die huis opgemerk.

Die finale uitslag van die presidents- en parlementêre verkiesing word vroeg Saterdag verwag.

CTA