Die Verenigde Nasies (VN) is gereed om te reageer op ’n verwoestende grondstorting Sondag in die Darfoer-streek in Soedan wat ’n hele bergdorp met meer as 1 000 inwoners onder modder begrawe het.
Swaar reën het tot die grondstorting gelei wat die dorpie Tarasin in die afgeleë Jebel Marra-bergreeks platgevee het.
Luca Renda, die VN se humanitêre koördineerder in Soedan, sê die VN het reeds gemobiliseer om hulp te verleen.
Volgens Renda is dit moontlik dat meer as 1 000 mense, almal inwoners van die dorpie, dood is. Daar is glo net een oorlewende.
Renda beskryf die grondstorting as “massief en verwoestend”.
Daar is intussen ’n beroep op ander hulporganisasies gedoen om te help om die dooies onder die modder en puin uit te haal. Humanitêre spanne en inwoners probeer die lyke herwin, maar die omvang van die ramp is te groot vir die beskikbare hulpbronne.
Pous Leo XIV sê hy is diep bedroef om van die verwoesting te verneem en het die burgerlike owerhede en noodpersoneel vir hul hulpverlening geloof.
Grondstortings kom algemeen in die gebied voor, veral in die reënseisoen wat in Augustus ’n hoogtepunt bereik. Die gebied is bekend om sy sitrusproduksie.





















