'n Man van Memphis in die Amerikaanse deelstaat Tennessee is in sy bed deur sy hond geskiet.
Die man, Jerald Kirkwood, sê hy en 'n vriendin het op sy bed geslaap toe sy eenjarige pitbull, Oreo, op die bed gespring en sy poot in die gelaaide vuurwapen se snellerskerm vasgesit het. Dit het veroorsaak dat die vuurwapen per ongeluk afgaan.
Die polisie het nie gespesifiseer watter soort vuurwapen dit was nie.
Volgens die plaaslike polisie in Memphis het 'n koeël die man se linkerbobeen skrams getref.
Kirkwood se vriendin het glo ná die voorval die huis met die vuurwapen verlaat.
Luidens die polisieverslag is die polisie na die huis in Whitney-laan in Memphis ontbied, waar hulle 'n gewonde Kirkwood aangetref het. Toe beamptes hom vra waar die betrokke vuurwapen is, het hy gesê sy vriendin het dit gevat toe sy die huis verlaat het, berig The New York Post.
Een koeëldoppie is op die toneel gevind.
Die polisie het die voorval as 'n ongeluk aangedui.
Kirkwood is in 'n nie-kritieke toestand na 'n plaaslike hospitaal vervoer.
Sy vriendin het aan die plaaslike media gesê Oreo is " 'n spelerige hond" en hy hou daarvan om rond te spring.
Sy het bevestig dat dit 'n fratsongeluk was toe die hond op die bed gespring en die vuurwapen laat afgaan het.
Hoewel vuurwapengeweld algemeen in Amerika voorkom, gebeur dit selde dat diere mense skiet.
Twee jaar gelede het 'n Duitse herdershond 'n 30-jarige man in Kansas doodgeskiet toe die hond op 'n jaggeweer getrap het. En in 2018 is 'n 51-jarige man van Iowa deur sy pitbull-Labrador-kruising in die been geskiet. - AFP



















