Pres. Donald Trump het Donderdag sy nuwe Vredesraad amptelik in Davos in Switserland bekendgestel. Die raad is oorspronklik in die lewe geroep om die brose skietstilstand in die Gasastrook te help handhaaf, maar Trump beoog ’n groter internasionale rol daarvoor.
Hy benadruk dat die Vredesraad saam met die Verenigde Nasies (VN) sal werk, hoewel sommige lande bekommerd is dat dit die VN se rol kan ondermyn.
Lande wat reeds aangesluit het, sluit in Turkye, Egipte, Saoedi-Arabië, Katar, Indonesië, Hongarye en Argentinië. Benjamin Netanyahu, premier van Israel, het ook die uitnodiging namens Israel aanvaar.
Lande soos Rusland het aangedui dat hulle wil deelneem. Rusland sê hy is bereid om die $1 miljard lidmaatskapgeld te betaal om die Palestynse volk te ondersteun. Ander groot moondhede soos Frankryk, Brittanje en China het egter nog nie aangesluit nie. Die VSA is tans die enigste permanente lid van die VN se Veiligheidsraad wat deelneem.
Trump het benadruk dat elke permanente lid $1 miljard moet bydra. Bekendes soos Marco Rubio, Jared Kushner, Steve Witkoff en Tony Blair is ook lede van die raad.
Die Vredesraad se hoofdoel is om die vredesplan vir die Gasastrook te laat slaag, insluitend die heropbou van die gebied en die ontwapening van die militante organisasie Hamas. Die raad hoop om as voorbeeld te dien vir vredesoplossings elders in die wêreld.

















