Mense

‘Burger’-adel sterf

Errol Lotter staan voor Parlement met 'n afskirf van Die Burger en by die Toyota Tazz waarmee hy die middestad platgery het.
Errol Lotter staan voor Parlement met 'n afskirf van Die Burger en by die Toyota Tazz waarmee hy die middestad platgery het. (Foto: Argief)

Errol Lotter, een van die bekendste gesigte in die Media24-gebou in Kaapstad, is onlangs in die ouderdom van 77 oorlede ná komplikasies weens ’n beroerte en demensie.

Nigel Lotter, een van sy seuns, het gesê sy pa het Vrydag sy laaste asem uitgeblaas terwyl hy in die sorg van Nigel se ouer broer, Leon, was.

Sy pa het onlangs ’n beroerte gehad en het ook aan demensie gely, met sy gesondheid wat die afgelope jaar agteruitgegaan het.

Lotter het 40 jaar lank vir Die Burger as bode/drywer gewerk en het in die 1970’s begin en tot lank ná sy aftrede ingestaan wanneer ander met verlof gegaan het.

Volgens Nigel was sy pa vreeslik trots op sy werk. Hy het sy pa aangehaal wat gesê het: “As ’n mens lief is vir dit wat jy doen, is dit mos nie werk nie.”

Lotter het met mense van uiteenlopende agtergronde bevriend geraak – van hawelose mense tot lede van die parlement en veiligheidsbeamptes. “Hy het die vermoë gehad om almal te laat lag en sy goedhartigheid te laat voel,” vertel Nigel.

Lotter was ’n boorling van Distrik Ses en het ook daar grootgeword.

“Hy was baie trots hierop en het gereeld van die gemeenskap, kos en die kultuur gepraat,” sê Nigel.

Hy sê sy pa het as tromspeler in ’n orkes gespeel en noem dat ander kunstenaars soos wyle Taliep Petersen, Bones Delight van die Rockets en Zayn Adam almal in dieselfde tyd in orkeste gespeel het.

Lotter was 21 jaar lank met sy vrou, Maureen, getroud, en het drie kinders, Leon, Nigel en Lance. Hy was ook die trotse oupa van vyf kleinkinders.

Abraham van Zyl, oudhoof van koerante by Media24, sê toe hy in die jare 70 by Die Burger ingeval het, was Lotter reeds daar.

“Hy was bevriend met almal wat saak maak, en het die ganse Skiereiland soos die palm van sy hand geken lank voordat die GPS sy verskyning gemaak het. Hy kon in die middestad parkeer waar hy wou, want al die Kaapse munisipale verkeersbeamptes – veral die vroue – het hom geken,” het Van Zyl gesê.

Lotter het op sy rondes as redaksionele en parlementêre bode dikwels op nuuswaardighede afgekom waarvan hy die redaksie sou inlig, en van sy nuusfoto’s is gereeld in Die Burger gepubliseer, vertel Van Zyl.

In die dae voor e-pos en elektroniese media was dit sy dagtaak om die weerkaart op die lughawe te gaan haal, asook eksemplare van Beeld, Volksblad en Oosterlig.

Errol Lotter in 2012 voor die parlement met sy aftrede.
Errol Lotter in 2012 voor die parlement met sy aftrede. (Foto: Argief)

Dit was ook sy taak om redaksielede by die lughawe te besorg of daar op te laai.

“Hoewel hy elke dag op die lughawe was, was Errol tot sy aftrede meer as ’n dekade gelede nooit in ’n vliegtuig nie. My plan was om hom eendag met ’n vliegkaartjie te verras sodat hy self ’n pak koerante by Beeld kon gaan afhaal en dit Kaap toe bring, maar dit het helaas nooit gebeur nie.

“Errol Lotter was Burger-adel,” het Van Zyl gesê.

Willem Jordaan, redakteur van Die Burger, sê Lotter was nie net deel van Die Burger se DNS nie, maar ook van die parlement s’n waar hy (Jordaan) Lotter byna drie dekades gelede as jong politieke verslaggewer leer ken het.

“Daardie ysterhekke het altyd summier vir sy wit Tazz oopgeswaai, selfs sonder dat hy homself ooit soos die res van ons met ’n permit moes identifiseer,” onthou Jordaan.

“As jy ’n dokument of ’n pakkie van Die Burger se hoofkantoor moes ontvang, is dit nie ‘per bode gestuur’ nie – dis ‘ge-Errol’. Sy naam het die taak geword.

“Almal, van presidente en die speaker tot parlementêre wagte en kombuispersoneel het van hom geweet. Ek onthou hoe trots hy was toe dr. Frene Ginwala, destydse speaker, hom geluk gewens het met 30 jaar diens as parlementêre bode van Naspers en later Media24.

“Die Burger en personeel se medelye gaan in hierdie tyd uit aan sy familie en geliefdes.”

‘Die Burger’ se oudspotprentkunstenaar, Fred Mouton, het dié karikatuur van Errol Lotter geskets toe hy in 2012 afgetree het.
‘Die Burger’ se oudspotprentkunstenaar, Fred Mouton, het dié karikatuur van Errol Lotter geskets toe hy in 2012 afgetree het. (Foto: Verskaf)

Lotter het in 2012 afgetree en daarna na een van sy liefdes teruggekeer: fotografie.

Hy het meestal troufoto’s geneem, maar toe sy sig erg verswak het, het hy op sy ander liefde gefokus, en dit was perde. “Hy was baie lief om op perdewedrenne te wed en was dolgelukkig wanneer hy dit kon doen,” vertel Nigel.

Hy vertel hoe sy pa en wyle emeritus aartsbiskop Desmond Tutu mekaar gereeld by die St. George-katedraal raakgeloop het met biddienste en hoe Errol altyd vir hom ’n eksemplaar van Die Burger gegee het.

“Mense soos (oudpres. Nelson) Mandela en Ginwala het hom op sy naam gegroet,” sê Nigel.

Nigel sê skertsend, met ’n humorsin soos eie aan sy pa, hy hoop die hekke van die hemel het outomaties oopgeswaai soos die hekke by die parlement en hom ingelaat sonder om enige veiligheidsprotokolle te volg.

Hy sê vir sy pa het sukses nie oor geld gegaan nie.

“Vir my pa was dit sukses om iemand te help wat in die knyp is en niks terug te verwag nie.

“Vir my pa om byna daagliks ’n maaltyd te deel met iemand wat honger is – sukses!

“Vir my pa om iemand te laat lag, al gaan hulle deur ’n moeilike tyd – sukses!”

Die familie het verkies om nie die begrafnisreëlings bekend te maak nie.

– Jana.Breytenbach@24.com

CTA