Mense

Dezi ‘voltooi wedloop, dra nou oorwinnaarskroon’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Dezireé (Baker) du Plessis het geen wedloop halfhartig gehardloop nie.

Ook nie haar lewenswedloop nie.

Die groot spore wat sy gelaat het met haar klein hardlooptekkies, het deur talle se gedagtes geflits toe Vangelis se “Chariots of Fire”, die lied eie aan die Comrades-wedloop, Saterdag deur die kerk weerklink het waar dié atleet se geliefdes haar lewe herdenk, gevier en saam gerou het.

Dezi, met reeds agt van dié moordende ultrawedlope agter die blad, wou in 2027 haar tiende Comrades-wedloop in ’n ry voltooi het.

Op Saterdag 29 November verlede jaar het sy saam met haar Pretoria Bobbies-hardloopklubmaats aan die Soweto-marathon deelgeneem toe ’n taxi haar raakgery het.

Sy is met ernstige kopbeserings na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal gehaas.

Twee weke later, op 12 Desember 2025, is die 40-jarige sprankel-ma van twee jong kinders oorlede.

Met die Kersvakansie wat gevolg het, en talle wat graag saam by die onthou-en-lewensvieringsdiens wou wees, is ’n diens vir haar die afgelope Saterdag by die NG kerk Noordoos-Pretoria, gehou, het dr. Jacques Myburgh, predikant, verduidelik.

Hy het vermoed dat Dezi se familie besluit het om die diens eers om 11:00 te laat begin omdat meer as 80% van dié wat in die kerkgebou sit, drawwers is.

“…en sodat julle eers vanoggend kon gaan draf voordat julle kerk toe gekom het. Dezi sou ook nie omgegee het as jy vandag in jou drafklere hier gesit het nie. Dit is soos die meeste van ons haar geken het,” het hy gesê.

Dezi was 13 jaar lid van die Bobbies, en haar ouers, Dave en Saskia Baker, meer as 30 jaar.

Myburgh, ook van dié hardloopklub, het dit dus gepas gevind om na 1 Korintiërs 9:23-27 te verwys, waar Paulus praat van die lewenswedloop.

“Vandag het ons baie vrae, met seer wat baie diep sny, en ’n gemis wat nie met woorde vasgevang kan word nie – maar ons vier ook ’n lewe wat betekenisvol was, van ’n mens wat baie harte geraak het,” het hy gesê.

Dezi (Baker) du Plessis was vir 13 jaar lid van die Bobbies-hardloopklub en het agt keer die Comrades-marathon voltooi.
Dezi (Baker) du Plessis was vir 13 jaar lid van die Bobbies-hardloopklub en het agt keer die Comrades-marathon voltooi. (Foto: Facebook/Marijke Miller)

Paulus gebruik ’n beeld in die teksvers wat vir die padwedloopgemeenskap bekend is, en sê elkeen moet só hardloop dat jy die wedloop voltooi – nie eindig nie – en die prys behaal, het Myburgh verduidelik

“Moenie doelloos hardloop nie. Wees gedissiplineerd in jou lewenswedloop en bring jou lewe onder die beheer en leiding van die Here.

“Vir Dezi en haar familie was hardloop nie net ’n stokperdjie nie. Dit was ’n lewenswyse. Julle het die een Comrades-wedloop ná die ander gehardloop, en Dezi, hoewel fyn en klein, was ’n stukkie dinamiet. Sy kon vasbyt, aanhou as ander wou ophou. Sy was ’n sterk mensie met ongelooflike krag in daardie lyfie en hart.

“En dit het nie net haar drawwery gegeld nie. Sy het nie halfhartig gehardloop nie, ook nie aan haar lewenswedloop nie.”

Met verwysing na die vreugde en omgee wat Dezi uitgedeel het, het Myburgh gesê haar ouers het gekies om hulself nie aan bitterheid oor te gee nie, maar om die Here te vertrou en eerder hul dogter se lewe te vier.

Om dié rede is onthou dat Dezi nooit sonder ’n glimlag was nie en sprankel gebring het waar sy ook al kom.

Hardloop-hartsmense en ander het dit beaam en Dezi beskryf as “een van daardie mense wat, as sy instap, is dit soos die son wat opkom”.

Hulle het onthou hoe haar dogter en seun, onderskeidelik 13 en 12 jaar oud, haar alles was.

Ander het egter ook saak gemaak.

“Vir Dezi het dit nie gegaan oor die medalje of hoe goed haar tye is nie. Wat saak gemaak het, was die mense saam met haar, en soms sou sy haarself tekort skiet om dié rondom haar aan te moedig,” het een gesê.

Nog ’n vriend het haar ’n “fenomeen” genoem.

Dezi se suster, Marijke Miller, het saamgestem: “Van kleins af kon jy net instap en ’n lig saam met jou dra,” was haar boodskap aan Dezi.

Sy het erken hoe stukkend die familie is; dat om oor haar sussie te praat “my oopruk op plekke wat ek nie gedink het ek het nie”.

“Jou lag het mense se skouers laat lig. Jou teenwoordigheid het hulle veilig laat voel,” het Miller onthou.

“Vir my was jy nie net ’n sussie nie, maar ook iemand met wie ek kon praat, saam kon lag, huil. Jy was my maat.”

Hul kinderdae was ’n sagte herinnering en die dag toe Miller hoor van die ongeluk, “het iets in my stil geword”.

“Dit was asof die wêreld aanhou beweeg het, maar ek het ophou asemhaal. Van daardie oomblik af wou ek net by jou wees, met jou praat, jou pyn wegvat.

“Jou terugbring.”

Miller het haar boodskap aan haar suster geëindig met: “Ek sal jou altyd liefhê. Ek sal jou dra in alles wat ek doen. Jou voetspore loop nou saam met my.”

• Thabang Ndlovu (39), die taxibestuurder wat glo vir Dezi raakgery het, is op 1 Desember in hegtenis geneem op aanklagte van dronkbestuur, versuim om by ’n ongelukstoneel stil te hou, en, ná Dezi se afsterwe, ook van strafbare manslag.

Hy is vroeër in die landdroshof in Orlando borgtog van R8 000 toegestaan, maar kon nog nie die bedrag bekostig nie en is steeds in aanhouding.

Hy verskyn weer op 28 Januarie in die streekhof.

– hotto@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM