Mense

Rensche Bougas: ‘Die dag toe ons saam met Anthonie gehuil het’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Rensche en Anthonie Bougas. Inlas: Kobus Schoeman.
Rensche en Anthonie Bougas. Inlas: Kobus Schoeman. (/Rapport Images)

Die lys regstappe teen die eertydse Kleuterzone-ringkop Rensche Bougas raak net ál langer. Nóg ’n man wat die afgelope maand onder haar tong deurgeloop het, wil haar nou dagvaar.

Die man, wat gevra het om nie geïdentifiseer te word nie, was jare lank bevriend met die Bougas-gesin en het ook ’n TV-reeks vir hul produksiehuis, ABS Produksies, vervaardig. Die reeks was in die gedrang nadat Anthonie Bougas, stigter van Kleuterzone, in Februarie vanjaar na Thailand gevlug het, maar die man sê hy het sy eie produksiehuis op die been gebring en kon die program red.

En tog hou die Bougas-skaduwee aan om hom te agtervolg.

Hy sê hy en sy familie het dreigemente vanuit die Bougas-familie gekry nadat hy in Mei met Netwerk24 gepraat het. Vroeër vandeesmaand het Rensche hom boonop in ’n openbare Facebook-plasing aangeval. Sy het hom daarvan beskuldig dat hy “van alles (wat Anthonie aangevang het) geweet het, meer as ek dalk”, en “van almal op die meeste luukse vakansies” saam met haar seun was.

Sy het ook beweer sy “het toevallig gehoor hy het R2 miljoen kontant in sy kluis weggesteek” en geld wat hy van Anthonie gekry het, gebruik om sy nuwe onderneming te begin.

Die vriend sê hy kon net sy kop skud oor haar aantygings.

“Sy sê ek moet die geld terugbetaal en voor die likwidateurs verskyn daaroor. Ek was voor die likwidateurs. Ek het alles wat ek gehad en geweet het aan hulle gegee en verduidelik.

“Oor die R2 miljoen: Ek het nog nooit eens soveel geld in my hande vasgehou nie, so ek weet nie waarvan sy praat nie. Sy sê nie eens wie se geld dit nogal sou wees nie,” sê hy.

“En die storie dat ek geld wat ek by Anthonie gekry het, gebruik het om my besigheid te begin ... ek wonder of sy besef dit kos jou maar R175 om ’n PTY te registreer.”

Die video was nietemin soos ’n dolk in sy hart, sê die man, want dit het hom laat wonder of hy ooit van die Bougasse sal ontsnap.

“Dit het my al so afgetakel om te sien dat mense soveel leuens kan versprei,” sê hy. “Vandat hulle gevlug het, is ek en my familie deur ’n aaklige tyd, want ons ken hulle al baie lank. Ons is deur baie seer en leed, en ek is werklik spyt ek het ooit mense soos daardie geken. Ek is moeg vir hulle goed en al die liegstories wat hulle vertel.”

Anthonie Bougas saam met sy gesin in Thailand in 2023. Van links is sy jonger broer, John, Anthonie, sy ma, Rensche, en sy pa, Anton. Foto: Facebook
Anthonie Bougas saam met sy gesin in Thailand in 2023. Van links is sy jonger broer, John, Anthonie, sy ma, Rensche, en sy pa, Anton. Foto: Facebook (Foto: Facebook)

Die man sê sy prokureurs het kort ná die publikasie van die Facebook-video ’n brief aan Rensche gestuur om aan te dring dat sy dit verwyder. Sy het dit steeds nie gedoen nie, dus oorweeg hulle nou verdere stappe.

“Sy moet kom, ek sal haar graag in die gesig wil kyk in ’n hof,” sê hy.

In haar monoloog het Rensche ook oor Anthonie se seksualiteit gepraat.

“Anthonie het begin twyfel oor sy seksualiteit nadat hy en sy vrou uitmekaar is,” sê sy. “Ons as ouers het dit obviously baie lank vermoed, maar vir hom gewag om ons te sê. Ek sal nooit vergeet nie, hy’t ons vertel by die huis waarin ons gebly het, wat aan hom behoort het, in Nooitgedacht in Stellenbosch. Ons het almal vreeslik gehuil, maar dit was ook ’n verligting.”

Oor waarom sy die video gemaak het, het sy onder meer gesê: “Mense daarbuite, meeste van hulle, het klaar besluit dat ek hierdie monster van ’n mens is. Dat ek die meesterbrein agter Kleuterzone is, dat ek gemors is, dat ek skelm is en dat ek k*kmal is, dat ek vir Anthonie druk, dat ek boeke gekook het. Dit is hoekom ek besluit het om te praat.”

Nie daardie video, of drie ander waarin sy uitvaar teen nog ’n eertydse vriend wat anoniem met die media gepraat het, bevat egter enige inligting oor haar betrokkenheid by Kleuterzone nie.

• Ook Kobus Schoeman, Kleuterzone se voormalige uitvoerende hoof, het die afgelope week aan Rapport gesê hy gaan Rensche aankla van crimen injuria oor dinge wat sy die laaste tyd oor hom kwytgeraak het.

Sy het onder meer onlangs gesê hy skuld die likwidateurs meer as R100 miljoen, terwyl sy net R70 000 hoef terug te betaal. Toe Rapport haar egter daarop wys dat sy luidens die hofstukke meer as R1,95 miljoen wederregtelik van Kleuterzone ontvang het, het sy geskerm dat sy nie eintlik weet wat die ware bedrae is nie.

“Jammer daaroor. Ek het gehoor by Anthonie dis R70 000. Ek het geen benul van R1,96 miljoen nie, ek weet glad nie waar dit vandaan kom nie. En ek het ook nog nie ’n woord van (die likwidateurs) gehoor nie, hulle het my e-posadres.

“Van Kobus (se skuld) weet ek nie eens nie.”

• Anthonie het aan die begin van die week vir die eerste keer sedert Junie (toe hy beweer het hy en sy ouers het na Kanada verhuis) op ’n openbare platform gepraat, toe hy op Facebook gesê het hy gaan die name noem van ander mense wat op die Kleuterzone-soustrein was.

Ná vier dae het daar nog niks van die dreigement gekom nie.

marizanne.kok@rapport.co.za

5094

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM