Nuus

EKSKLUSIEF | Rensche en Anton Bougas terug in SA

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Rensche Bougas
Rensche Bougas (Foto: Verskaf)

Rensche Bougas en haar man, Anton, is sak en pak terug in Suid-Afrika van Thailand af en sal na verneem word volgende week voor die likwidateurs van haar seun se omstrede Kleuterzone-skema verskyn.

Rensche (63) het glo weke lank dié inligting vir haarself gehou “uit vrees vir my lewe”.

Die egpaar is in Maart vanjaar Thailand toe, waar hulle hul by hul seun Anthonie, stigter van die Kleuterzone Groep van Skole, aangesluit het nadat die bom oor sy beweerde bedrieglike skema gebars het.

Anthonie (33) het met sy Kleuterzone-skema nagenoeg R400 miljoen van sowat 1 300 beleggers ingesamel. Beleggers is hoë opbrengste van tot 72% per jaar beloof. Die skema is in Mei vanjaar finaal gelikwideer.

Anthonie is nog nie van ’n misdaad aangekla nie.

LEES OOK | Bougas: ‘Julle voel dalk dis vermetel, maar help my ouers’

Netwerk24 het van verskeie betroubare bronne verneem dat die Bougas-egpaar reeds weke gelede uit Thailand teruggekeer het.

Anton en Rensche Bougas
Anton en Rensche Bougas (Foto: Verskaf)

Na verneem word, woon Rensche en Anton (66) nou by vriende aan die Weskus.

Rensche sal na verwagting wel volgende week in Pretoria voor die likwidateurs verskyn, wat ingevolge art. 417 van die Maatskappywet ondervragings voor ’n kommissaris hou om die verlore bates op te spoor. Die ondervragings vind agter geslote deure plaas.

Rensche het glo weer “los werkies” begin doen om die pot aan die kook te hou. Haar man, ’n oogkundige, se gesondheid is egter glo te swak vir hom om weer te kon begin werk.

Netwerk24 het vroeër berig dat dit beroerd gegaan het met die egpaar toe hulle in Thailand was.

LEES OOK | Rensche Bougas: ‘Ons was een aand weg van haweloos wees’

Hul geld het opgedroog en hulle kon nie meer medikasie aanskaf of mediese behandeling bekostig nie.

Luidens plasings op Rensche se Facebookblad het sy begin om al haar tekkies en selfs ’n oefenapparaat te smous in ’n poging om geld te kry.

Hoewel die egpaar aanvanklik by Anthonie tuisgegaan het, het hul paaie later in Thailand geskei.

Anthonie Bougas en sy ma, Rensche.
Anthonie Bougas en sy ma, Rensche. (Foto: Verskaf)

Na verneem word, het die egpaar die laaste paar maande op hul eie gewoon en moes hulle spook om nie op straat te beland nie omdat hulle nie meer hul huurgeld kon bybring nie. Hulle het glo van brood en noedels geleef.

Die egpaar se ander seun, John, het ook intussen na Suid-Afrika teruggekeer en het glo reeds voor die likwidateurs verskyn.

Netwerk24 het vroeër berig dit was die Bougas-egpaar se grootste begeerte om terug te keer na Suid-Afrika “om ons volle samewerking aan die likwidateurs te gee en die waarheid te praat”.

LEES OOK | Rensche en Anton Bougas sal ‘volle samewerking’ in ondersoek gee

Daar was toe ook sprake daarvan dat Anton weer vanaf 1 November sou begin werk het. Rensche het toe ook gesê dat hulle dalk vir ’n Sassa-toelae van die staat sou aansoek doen.

Rensche het by navraag gesê sy wil nie oor hul terugkeer kommentaar lewer nie.

– jana.vdmerwe@media24.com

– anja.vandermerwe@media24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM