Die gemeenskap van Mokopane is in rou gedompel ná die dood Sondag van ’n onderwyseres van dié dorp in Limpopo.
Elsabé Brits was sedert 2007 verbonde aan die Mokopane Destiny Academy en het aan motorneuronsiekte (MNS) gely. Sy is in die Midstream-hospitaal in Centurion oorlede.
“Sy het nie een dag toegelaat dat die siekte haar vreugde of geloof steel nie en het tot die einde toe met moed, liefde en ’n lig in haar hart geleef,” sê Dalene Janse van Rensburg, jare lange vriendin van Brits.
“Sy het beslis nie die stryd teen die siekte verloor nie, sy het gewen.”
MNS word gekenmerk deur die verlies aan funksie van die motoriese senuwees in die ruggraat en brein en raak volgens Airo Medical 2 uit elke 100 000 mense wêreldwyd.
Janse van Rensburg glo Brits se familie en vriende kan getuig dat sy met vrede in haar hart en deernis vir ander geleef het, selfs in die moeilikste tye.
“Haar lewe getuig van die een seën ná die ander. Selfs in die moeilike tye kon sy lag en vreugde vind saam met haar geliefdes. Dit is hoe sy onthou sal word.”
Brits is op 18 November 1968 in Welkom in die Vrystaat gebore. Sy en haar man, Albie, het mekaar sedert hul skooldae in 1985 geken en is in 1996 getroud. Hulle het twee seuns, Martin (26) en Albert (23).

Brits het onderwys aan die Universiteit van Pretoria studeer en later ook ’n honneursgraad in tale verwerf.
Sy het haar onderwysloopbaan by die Hoërskool Overkruin in Pretoria begin en is daarna by die Hoërskool Lydenburg aangestel. Ná hul troue het die egpaar hulle in Mokopane gevestig, waar sy as Engels-onderwyseres diep spore by die Hoërskool Piet Potgieter gelaat het.
Sy was sedert 2007 verbonde aan die Mokopane Destiny Academy, waar Janse van Rensburg die hoof is.
“Sy het solank as wat dit fisiek moontlik was skoolgehou en maniere gevind om haar passie oor te dra, selfs toe die siekte in ’n gevorderde stadium was. Sy het tot die begin van 2025 ekstra klasse gegee,” sê Janse van Rensburg.
“Elsabé het Engels met die grootste passie gegee. Sy het maniere gevind om haar leerlinge lief te maak vir literatuur deur die taal vir hulle lewend te maak.”
Maar dit was meer as dit: Brits het lewens gevorm.
“Sy het baie omgegee oor wie haar studente is en wie hulle gaan word. Sy het hulle nie net op eksamens voorberei nie, maar ook op die lewe en die toekoms. Lank nadat hulle klaar was met skool het sy hul vordering gevolg, hulle aangemoedig en ondersteun. Dit is haar ware nalatenskap.”
Brits was bekend as ’n vrou met ’n groot liefde vir mense, ’n passievolle “woordmens” met ’n onkreukbare karakter, geanker in haar geloof. Haar verhoudings met mense was die grondslag van Brits se lewe en sy het “ ’n stil krag in haar gehad” wat haar in staat gestel het om die lewe met oorgawe en oorvloedige liefde te leef.
“Lewe en vreugde het uit haar gestraal,” sê Janse van Rensburg.
“Ons was gelukkig om te kon deel in haar pragtige lewe.”
Brits het ’n groot invloed op elkeen gehad wat oor haar pad gekom het en dis duidelik sigbaar in die huldeblyke wat instroom, ook van medeonderwysers en oudkollegas.
Mnr. Jas Hansen, oudhoof van die Hoërskool Piet Potgieter, het aan Netwerk24 gesê hy onthou Brits as iemand wat “diep, diep spore in die gemeenskap gelaat het”.
“Sy was ’n wonderlike mens en fantastiese onderwyseres. Sy laat ’n leemte wat nie maklik gevul kan word nie,” sê hy.
Brits word Saterdag ter ruste gelê.



















