Huldeblyke stroom in nadat 'n joernalis van die Sondagkoerant City Press Vrydagmiddag dood gevind is in sy huis in Mmabatho in Noordwes.

Poloko Tau is slegs 'n week voor sy 42ste verjaardag onverwags oorlede.
Sy jongste broer, Onkemetse Tau, het sy dood bevestig.
Sedert die nuus oor Tau se dood bekend gemaak is, het huldeblyke van oor die land heen ingestroom.
Mondli Makhanya, redakteur van City Press, sê die dood van Tau, wat veral naam gemaak het met sy diepte-artikels, is 'n verlies vir die koerant en joernalistiek in Suid-Afrika.
"Hy het stories wat vir almal belangrik was op die mees empatieke manier vertel," sê Makhanya.
Nicki Gules, 'n voormalige nuusredakteur saam met wie hy gewerk het, sê Tau was 'n talentvolle skrywer met 'n passie om die stories van doodgewone mense te vertel.
"Poloko was 'n toegewyde seun, pa en oupa. Sy familie, asook City Press, het 'n steunpilaar verloor," sê Gules.
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) het ook sy medelye met Tau se familie, vriende en kollegas betuig.
Sbu Ngalwa, voorsitter van Sanef, sê hulle is verslae.
"Hy was die soort joernalis wat stories geskryf het om 'n verskil te maak, nie om roem na te jaag nie."
Ook Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en vissery, het haar hartseer oor Tau se dood gedeel.
"Ek sal met mooi herinneringe onthou hoe ons in diepte oor omgewingsake en klimaatsverandering gesels het.
"Hy het 'n belangrike bydrae gelewer om die publiek in te lig oor kwessies wat saak maak," sê sy.








