Mense

Meisie (11) met seldsame siekte se selfvertroue verbeter ná behandeling

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Nicela se selfvertroue het so mooi verbeter nadat haar aangetaste handjie behandel word. Foto: Verskaf
Nicela se selfvertroue het so mooi verbeter nadat haar aangetaste handjie behandel word. Foto: Verskaf

Al veg die jong meisie al soveel jare moedig teen 'n seldsame siekte, was sy maar altyd selfbewus omdat sy anders as haar maats lyk. Nicela Naudé het telkens haar hand, wat weens die siekte opgepof en rooi gelyk het, in 'n broeksak weggesteek of onder haar hempie ingedruk, vertel haar ma, Madelaine Naudé. Maar danksy nuwe behandeling lyk dié hand deesdae stukke beter - en Nicela straal.

"Ek kan sien sy het nou meer selfvertroue. Mense staar soms. Dit verstom my hoe sterk sy is en die passie waarmee sy lewe. Sy geniet elke oomblik van elke dag. Sy lag lekker uit haar maag uit en dit maak ons baie gelukkig."

Die seldsame Klippel-Trenaunay-sindroom is by geboorte by Nicela gediagnoseer, en dokters het haar aanvanklik net vier maande gegee om te leef. Net een uit elke 100 000 mense het dié sindroom, wat die vorming van bloed- en limfvate beïnvloed en groeisels so groot soos tennisballe aan die linkerkant van haar liggaam veroorsaak.

Danksy 'n reeks operasies en behandelings gaan dit vandag goed met Nicela. Die behandeling word gedoen deur dr. Laura Redman, 'n vaskulêre chirurg van die Netcare Christiaan Barnard Memorial-hospitaal in Kaapstad. Sy kry onder meer een keer per maand skleroterapie-inspuitings, wat bestaan uit 90% alkohol. Sy kry die inspuitings onder narkose en dit help om die gewasse te laat krimp, die vergroeisels te keer en dit te beheer. Die inspuitings word onder narkose gedoen omdat dit baie seer is, sê Madelaine.

Nicela is mal oor skoolgaan. Sy hou daarvan om nuwe dinge te leer en met maar maatjies te speel. Foto: Verskaf
Nicela is mal oor skoolgaan. Sy hou daarvan om nuwe dinge te leer en met maar maatjies te speel. Foto: Verskaf

"Ná die tyd is daar baie kneusplekke." Maar dis alles die moeite werd. "Die arm en die handjie is al aansienlik kleiner." Nikki, soos haar geliefdes haar noem, moet ook elke maand haar bloed laat trek om die sirolimus-vlakke dop te hou. Hierdie immuunonderdrukker kan óf baie goed wees vir jou óf giftig.

Sy's nou amper twee jaar op hierdie pil wat haar sindroom in toom help hou. Nicela se sindroom veroorsaak dat haar are groter en meer is as ander mense s'n. Daar's veral een ooraktiewe aar in haar arm wat veroorsaak dat haar hand so rooi raak. Daarom dra sy nou 'n armbandjie wat soos 'n ballon "opgeblaas" kan word met 'n leë inspuiting om só die aartjie op haar gewrig toe te druk. Dokters sal binnekort 'n MRI-skandering doen om te kyk of daar enige blokkasies in die are is en dan sal daar dalk 'n moontlike operasie volg om die aar af te bind.

"Sy's dapper deur dit alles, want sy wil nie hê ons moet stres nie," sê Madelaine. Die behandelings is allermins goedkoop en die Naudés se mediese fonds dek dit nie naastenby nie. Maar om hulle dogter te hoor lag, maak dit elke sent werd vir Madelaine en haar man, Jacques, wat albei in die polisiediens werk. Hulle het Nicela aangeneem ná die meisietjie hulle harte op net drie weke oud gesteel het. 'n Vriendin van die paartjie het haar tydelik versorg en hulle het haar daar ontmoet. Vandag is sy Jacques se oogappel. "Ek noem hulle petrolkoppe," sê Madelaine.

"Nikki is ook 'n Formule 1-aanhanger. Sy ken al die bestuurders, spanne, eienaars, tot die ingenieurs. Jy kan haar enigiets vra van dié sport. Formule 1-seisoen is nooit stil in ons huis nie." Intussen is Nicela nog dolgelukkig in haar skool, Riverside College, waar sy haar hele skoolloopbaan van Gr-R deurbring, sê Madeleine.

"Sy hoef nie weer vir 'n klomp kinders te verduidelik wat ‘fout' is nie en hoe ‘dit gebeur het' nie. As nuwe maatjies in haar klas in kom, dan vertel sy sommer dadelik haar storie. Sy verduidelik dit raak beter en is nie aansteeklik nie. "In 'n vorige onderhoud het Madelaine gesê hul grootoog-dogtertjie het hul lewens kom verander. "Ek sê altyd as ons haar nie gehad het nie, het ons net by die huis gesit en stagneer. Sy hou ons jonk en sy maak ons so gelukkig."

Nicela saam met haar ma, Madelaine en pa Jacques. Hulle is oneindig lief vir haar. Foto: Verskaf
Nicela saam met haar ma, Madelaine en pa Jacques. Hulle is oneindig lief vir haar. Foto: Verskaf

Haar en Jacques se huwelik is ook sterker ná Nicela se koms. "Ons albei wil net die beste hê vir Nicela. As jy dieselfde doel het, werk jy great saam. Ons het ons oomblikke van frustrasie in ons huwelik en wonder soms hoe gaan ons vir alles betaal. Hoe gaan ons dit doen? Gaan sy oukei wees? Maar die kommer hou gewoonlik nie lank nie." Hoe ouer Nicela word, hoe meer vra sy uit oor haar biologiese ma. "Ons antwoord haar vrae so eerlik as wat ons kan. Sy wil weet of sy soos haar ma lyk en het ook al gevra hoekom haar ma haar nie wou hê nie.

"Ek het verduidelik dat dit nie die geval was nie. Haar biologiese ma was nie gereed om 'n baba groot te maak nie. Daar kan baie redes wees daarvoor, maar Nikki moet dit nie persoonlik opvat nie. "Sy was 'n baba wat soos nege ander daardie dag in Groote Schuur gebore is. Haar biologiese ma het haar nie eens gesien nie. Haar sindroom het geen rol gespeel nie. Sy is nou 'n persoon, 'n mens. Sy is Nicela Naudé. Haar biologiese ma het nie haar persoonlikheid leer ken nie.

"Sy's vol lewe. Sy wil alles doen. Sy presteer akademies goed, al haar vakke is bo 90 persent. Sy speel sokker en tennis en netbal. Sy's op die debatspan. Sy debatteer ook elke dag met my by die huis," sê Madelaine en lag. "Dis mos wat 'n amper-tiener doen."

Pieter Van Zyl

Pieter van Zyl

Pieter is a lifestyle journalist.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM