Die oop harte van Transnet-werkers in Bloemfontein het Vrydag vir breë glimlagte en blye harte gesorg toe hulle as deel van 'n uitreik-aksie tientalle mense met gestremdhede bederf het.
Meer as 80 mense met gestremdhede van die Kopano-werksessie op die Transnet-perseel in die Rosestad is op braaivleis en geskenkpakke getrakteer.
'n Jolige atmosfeer het vroegdag by die werksessie geheers.
Dié byeenkoms is in samewerking met die Vereniging vir Persone met Gestremdhede in die Vrystaat aangebied en bied onder meer vaardigheidsontwikkeling en opleiding, naaldwerk en rekenaarvaardighede aan.
Vir Tersius Prince, 'n Transnet-werker wat die dag saam met sy kollega Mncedi Mama en ander Transnet-werkers gereël het, is dit lekker om na ander uit te reik.

Volgens Prince is dit deel van verskeie uitreikprogramme wat die werkers van Transnet as deel van Mandeladag-vieringe vanjaar aangepak het.
"Om na ander uit te reik wat nie in dieselfde posisie as jy is nie, lê my na aan die hart, sê Prince.
"Om te gee en uit te reik aan ander is iets wat ek van my oorlede ma, Anadene, geleer het. Ek eer net haar nagedagtenis."
Hy benadruk egter dat hy dit nie sonder die hulp van almal by Transnet kon doen nie. Hy sê sy kollegas het dadelik hul harte oopgemaak toe hy met die voorstel kom.
"Almal het saamgekom om 'n sukses van die dag te maak."

Vir Albert Mjomgile, 'n fasiliteerder by die werksessie wat in 2012 albei sy bene verloor het nadat gangreen by hom gediagnoseer is, sê hulle het lank na die dag uitgesien.
Hy sê hulle is dankbaar dat hulle steeds raakgesien word en dat daar mense daarbuite is wat steeds omgee.
Mjomgile sê dit was moeilike om sy bene te verloor en hy het vir lank alleen gevoel, totdat hy by dié werksessie aangesluit het.
"Ek en almal hier voel nou deel van iets. Dit is nie meer so eensaam nie. Ons behoort en is dankbaar dat ander ons raaksien."
André van Niekerk, 'n Transnet-werker en een van die braaiers, wie se seun, Logan, serebraal gestremd is, sê dit lê hom na aan die hart om "iets vir iemand anders te doen."

















