Mense

Rosestad wys Proteas hoe ’n heldeontvangs lyk

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
KYK | Die Proteas hou 'n pronktoer deur Bloemfontein Proteas se pronktoer deur Bloemfontein. (mandisa.maphisa@media24.com)

Die Proteas het Dinsdag ’n draai in Bloemfontein gemaak met die septer wat hulle in die Wêreld-toetskampioenskap verower het, en die Rosestad het hulle met ope arms verwelkom.

Van die oomblik dat hul toerbus die stad met blêrende luidsprekers ingery het, was daar ’n byna tasbare gevoel van opwinding terwyl mense die span langs die strate toegejuig het.

Netwerk24 was saam in die bus en kan getuig: Bloemfontein het opgetrek vir sy kriekethelde.

Aiden Markram en Tristan Stubbs saam ’n groep jong spelers wat die dag by die Tsoseletso High School saam met die Proteas deurgebring het.
Aiden Markram en Tristan Stubbs saam ’n groep jong spelers wat die dag by die Tsoseletso High School saam met die Proteas deurgebring het. (Foto: Mlungisi Louw)

By die Tsoseletso High School het honderde jong leerlinge tougestaan om saam met die Proteas te kolf of boul.

“Die ontvangs hier was die beste wat ek nog in my lewe ervaar het,” het die veelsydige Corbin Bosch aan Netwerk24 gesê. “Dit is veral spesiaal om te sien hoe hartlik mense ons vier maande ná ons oorwinning steeds ontvang.”

Corbin Bosch deel sy handtekening aan ’n groep jong aanhangers uit.
Corbin Bosch deel sy handtekening aan ’n groep jong aanhangers uit. (Foto: Mlungisi Louw)

Vir die snelbouler Lungi Ngidi was die besoek ’n emosionele herinnering aan sy eie kinderdae.

“Toe ek ’n seuntjie was, kon ek my helde gereeld op Kingsmead sien speel – dit het my geïnspireer om te word wie ek vandag is. Ek hoop ons besoek vandag kan vir die leerlinge dieselfde vonk gee.”

Kagiso Rabada bekyk Busisiwe Itumele (10) se boulwerk.
Kagiso Rabada bekyk Busisiwe Itumele (10) se boulwerk. (Foto: Mlungisi Louw)

Een van daardie jong dromers is Busisiwe Itumele (10), wat met blink oë vertel het dat dit haar droom is om eendag die Protea-vrouespan te verteenwoordig. “Ek het dit so geniet om saam met hulle te speel – ek gaan nou harder oefen!”

Aiden Markram, die held van die Proteas in die eindstryd teen Australië op Lords in Engeland met sy honderdtal in die tweede beurt, het teen die kinders gekolf en geboul – iets wat die kleintjies ontsettend geniet het.

Tristan Stubbs kolf Dinsdag saam met die jongspan in Bloemfontein.
Tristan Stubbs kolf Dinsdag saam met die jongspan in Bloemfontein. (Foto: Mlungisi Louw)

Xander Snyders, president van die Vrystaatse Krieketunie, het in sy verwelkomingstoespraak gesê dit is ’n ongelooflike voorreg om die nasionale span in Bloemfontein te hê.

Vang hom! Aiden Markram doen verldwerk saam met die jongspan.
Vang hom! Aiden Markram doen verldwerk saam met die jongspan. (Foto: Mlungisi Louw)

“Dit is oorweldigend om ons helde vandag hier te hê. Krieket is almal se sport, en deur hier by ’n skool te wees, wys julle dit.”

Die Proteas is laatmiddag na die King Shaka-lughawe in Durban en Woensdag wag ’n busparade van Umhlanga na Kingsmead, gevolg deur ’n braaidag saam met ondersteuners.

– robyn.schutte@media24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM