WAARSKUWING: Die inhoud van dié berig is nie bedoel vir minderjarige lesers nie.
Ek stap by die Luvland-sekswinkel in die Constantiapark-rif-winkelsentrum in Pretoria in en word gegroet deur ’n netjiese, vriendelike man met arms vol verwelkende tatoeëermerke en ’n glimlag wat tot in die hoeke van sy oë strek. Jy kan hom deur ’n ring trek.
Hy stel voor ons ontmoet mekaar by dié winkel, siende dat dit hul suksesvolste tak in die land is.
Ek kyk die man van kroontjie tot toontjie, maar sien g’n teken van versteekte horings of ’n duiwelstert wat iewers uithang nie.
Die winkel is so skoon jy kan van die vloer af eet en die rakke is tot barstens toe vol helderkleurige speelgoed en ander toebehore wat my nader lok om dit beter te bekyk.
Die werknemers is geklee in netjiese swart hemde met naambalkies – Lyle en Melcolm heet die twee.
Hulle is vrolik, gaaf en borrel oor van kennis oor die produkte wat die winkel van hoek tot kant vol staan.
Werknemers by Luvland is ook nie sommer van hier nie. Hulle word opgelei deur kundiges in seksterapie en is reg om mense te help om openhartig oor hul seksuele behoeftes en tekortkominge te praat.
Net daar besluit ek Patrick Meyer (70), direkteur van die Luvland-sekswinkels, is nie die duiwel nie en sy winkel is nie die poorte van die hel nie.
Dié mense doen goeie werk. Nodige werk.

Wie is Patrick Meyer?
Meyer is so na aan die koning van seks as wat Suid-Afrika kan kom.
Hy is ook ’n entrepreneur, eggenoot, pa en oupa van twee kleinkinders.
As deel van sy 46 jaar lange loopbaan as baanbreker in die seksbedryf in Suid-Afrika het hy in die 1980’s gehelp om die bekende Hustler-tydskrif na Suid-Afrika in te voer, in die 1990’s die eerste telefoonlyn-seksdiens op die been gebring en in die 2000’s sy eerste sekswinkel oopgemaak.
Meyer vertel van Hustler dat die apartheidsregering dié tydskrifte een uitgawe op ’n slag verbied het nadat dit ingevoer en hier verkoop is. Hulle kon gemiddeld 200 000 eksemplare verkoop kry voordat dit verbied is. Dít het die vraag na die tydskrifte net soveel meer laat toeneem, en hy sê hulle kon nie voorbly met bestellings nie.
Die skryfbehoeftekettingwinkel CNA het dit selfs op sy rakke verkoop.
Oor die land se eerste telefoonlyn-seksdiens vertel hy hy het in 1994 in ’n kroeg gesit en kuier met ’n vriend – Leon Schuster.
Schuster het in der waarheid met die idee vir Meyer se volgende blink plan vorendag gekom: “Begin ’n telefoonsekslyn!”
Die diens was destyds reeds gewild in sekere lande.
Binne weke kry Meyer ’n 087-telefoonnommer, vergader met ’n vrou wat slegs as Charmaine bekend staan – Suid-Afrika se eerste telefoonlyn-seksoperateur – en plaas ’n advertensie in die snuffeladvertensies van ’n koerant. Die foon hou nie op lui nie!
Tussendeur maak hy selfs vir ’n tydjie ’n opnameateljee oop en werk met kunstenaars soos Johnny Clegg, Dozi en Claire Johnston van die musiekgroep Mango Groove.
Toe, in 2009, maak Meyer die eerste Luvland-sekswinkel oop.
Luvland-sekswinkels
Volgens Melcolm Bester en Lyle Dass, die werknemers by die Constantiapark-rif-tak van Luvland, kry die winkel baie voete, veral op Vrydae.
In die uur dat ek in die winkel staan om die onderhoud te voltooi stap daar ’n swart vrou en ’n wit man in hul laat 30’s in en ’n Asiatiese vrou in haar laat 50’s. Dit lyk na diverse klandisie.
Meyer en sy werknemers maak dit wel duidelik dat hul klante meestal wit, Afrikaans en middeljarig of ouer is.
Melcolm vertel dat die winkel gewild is onder diegene wat sexy en snaakse speletjies en toebehore wil aanskaf vir ram- en hennepartytjies, maar ook onder sowel hetero- as homoseksuele paartjies.
Luvland se deure is sewe dae ’n week van 09:00 tot 19:00 oop en sluit slegs twee dae van die jaar: Kers- en Nuwejaarsdag. Hul beste tye van die jaar vir verkope is omstreeks Halloween (meer vir die sexy uitrustings), Valentyns- en Moedersdag.
“Moedersdag!” gil ek hardop. Ja, sê Melcolm en Lyle in een stem: “Ma’s verdien ook om bederf te word.”
Die meeste klante betaal met ’n kaart, wat sin maak as jy sien dat van die produkte jou tot skuins oor die R6 000 uit die sak kan jaag.
Van die produkte kom selfs met ’n funksie wat jou die opsie gee om dit van ’n app op jou foon te beheer. Lyle spring in en sê: “Jy kan op dié manier in Durban wees en jou vrou in Pretoria plesier gee.”
Melcolm vertel dat hulle nie sukkel om die speelgoed, onderklere en smeermiddels te verkoop nie.
Meyer wil egter nie ’n woord rep oor die maatskappy se maandelikse omset nie, maar ek raai (nadat Melcolm laat glip sy kasregister vat minstens R10 000 per dag) dat dit maklik ’n halfmiljoen rand kan wees.
Dis duidelik… seks verkoop soos soetkoek.
LEES OOK | Seks verkoop soos soetkoek in SA

Wie koop hier aan?
Meyer sê anders as in die meeste ander lande, verkies Suid-Afrikaners tot op hede nog om hul aankope in persoon te doen en nie aanlyn nie.
Hy skryf dit toe aan die feit dat daar so baie winkels landwyd is.
Slegs sowat 10% van hul verkope is aanlyn.
Daar is tans 81 Luvland-winkels in Suid-Afrika, die meeste van hulle in Gauteng.
Meyer sê die vraag na dié soort winkels neem toe in die Wes- en Noord-Kaap, en dat hulle binne enkele maande drie bykomende winkels daar gaan oopmaak – in Kimberley, Kaapstad en in die Tuinroete.
“Die onderneming vaar eintlik so goed dat ons teen die einde van die jaar beplan om nog 15 winkels in Suid-Afrika te open.”
Daar was volgens Meyer wel ’n waterskeidingsoomblik wat dié soort winkels se gewildheid die hoogte laat inskiet het, veral onder vroue: Die publikasie van die erotiese hygroman Fifty Shades of Grey in 2011.
Vroue het skielik by sy winkels begin instroom op soek na van die speelgoed en toebehore wat in E.L. James se boeke genoem word.
Maar dis nie alles maanskyn en rose nie.
Meyer vertel daar is al geskiet op hul winkel in Linden, Johannesburg, dat ’n advertensiebord wat op ’n sleepwa gemonteer was in die Vaalrivier gegooi is en dat hul ander advertensieborde gereeld deurloop onder vandale.
Ten spyte hiervan vaar die onderneming baie goed en is daar talle planne om in die aanlyn bedryf te woeker en selfs beter en groter reklameborde op te rig.

Die produkte
Luvland het sy eie speelgoedreeks vir volwassenes begin wat onder die Wonderland-handelsnaam in die winkels verkoop word en soms ietwat meer bekostigbaar is as ingevoerde produkte.
Ander produkte op hul rakke sluit in snuisterye, speelgoed, smeermiddels en vloeirome vir volwassenes.
Meyer sê sedert pornografie vrylik op die internet beskikbaar is, vorm dit ’n baie klein deel van hul sakemodel. In die winkel in Constantiapark-rif was daar slegs ’n handvol DVD’s te koop wat agterin die winkel op ’n rak uitgestal word.
Hy meen Chinese aanlyn winkels soos Shein en Temu is ’n klad op sy bedryf se naam. Die produkte wat hulle aanlyn smous, voldoen volgens Meyer dikwels nie aan regulasies nie, van die plastiek bevat giftige chemikalieë en van die batterye in die speelgoed kan lek of selfs aan die brand slaan.
Meyer sê ál Luvland se produkte is onderhewig aan streng standaarde wat deur ’n geakkrediteerde onafhanklike raad gereguleer word.
Topverkopers
Die drie produkte wat die beste verkoop is die Xania, Rosey en Dormouse.



Met Valentynsdag om die draai is dit dalk net die tyd om iets vir jou beminde aan te skaf wat jul sekslewe ’n bietjie kan opkikker.
En vir die enkellopendes onder ons – daar is spesiale pakkette vir ons ook …







