Mense

Snapper tuis ná eienaar 10 km stap om haar lewe te red

Snapper en haar eienaar, Adam Letchuti, by die skenkings wat hulle ontvang het nadat Snapper katgriep opgedoen het.
Snapper en haar eienaar, Adam Letchuti, by die skenkings wat hulle ontvang het nadat Snapper katgriep opgedoen het. (Foto: Verskaf)

Snapper, ’n sewe maande oue Duitse-herdershond-kruising wie se verhaal vroeër vanjaar harte landwyd aangeraak het, is die naweek uit die sorg van die Cluny Animal Trust ontslaan en is terug by haar eienaar, Adam Letchuti.

Netwerk24 het vroeër berig hoe Letchuti twee weke gelede meer as 10 km van die Mashaeng-township na die Cluny Animal Trust in Fouriesburg gestap het om hulp vir sy siek hond te kry. Hy het ’n tuisgemaakte drahouer uit ’n krat en tou gemaak om Snapper te karwei nadat sy ernstig siek geword het met katgriep en weens ander komplikasies.

Luidens ’n nuwe inskrywing wat Sondag deur die Cluny Animal Trust op sosiale media geplaas is, het Snapper goeie verbetering getoon nadat sy Letchuti vroeër die week gesien het.

“Dit was asof sy verstaan sy moet beter word om huis toe te kan gaan,” het Imogen Tarita, woordvoerder van die Cluny Animal Trust, Woensdag aan Netwerk24 gesê.

“Hoewel sy nog effens wankelrig is en gewig moet aansit, was dit tyd om haar te ontslaan.”

Tarita het aan Netwerk24 bevestig Snapper is Sondag saam met Letchuti huis toe.

“Sy is nog nie heeltemal reg nie, maar ons is baie tevrede met haar vordering. Dit is presies die goeie nuus waarop ons almal gehoop het,” sê Tarita.

Danksy skenkings van die publiek kon die organisasie al Snapper se mediese koste dek, insluitend haar volledige inentingsprogram, toekomstige sterilisasie, bosluis- en vlooibehandelings, asook kos vir die volgende ses maande.

Snapper het ook ’n geskenkpak ontvang met komberse, speelgoed, ’n nuwe hondebed en ander benodigdhede. Soos belowe, het Letchuti ’n kruidenierspakkie en koopbewyse van ’n supermark en slaghuis in Fouriesburg ontvang.

“As jy die foto’s sien, kan jy sien hy kon dit nie glo toe hy besef alles is vir hom en Snapper nie. Hy was oorstelp en het gevra dat ons almal namens hom bedank,” sê Tarita.

Die Cluny-span het Snapper en Letchuti self huis toe geneem en beplan om gereeld huisbesoeke te doen om seker te maak alles gaan goed. Een van die Cluny-spanlede het ook tyd saam met Letchuti deurgebring om hom oor Snapper se kort- en langtermynversorging touwys te maak.

“Opvoeding is vir ons ongelooflik belangrik,” sê Tarita. “Wanneer mense beter weet, doen hulle beter. Adam en Snapper weet nou dat die hele Cluny-span daar is om hulle te ondersteun.”

Sy sê die organisasie is dankbaar vir die steun wat hulle ontvang het.

“Hierdie storie het soveel mense geraak. Ons is net dankbaar dat dit met goeie nuus eindig.”

– robyn.schutte@media24.com

CTA