Een van die storievertellers van die destydse TV-program Spies & Plessis is Vrydagaand oorlede.
Arno van Zyl (82) van Springbok het volgens ’n vriend, Erik de Milander, ’n ligte beroerte gehad en is aan natuurlike oorsake dood.
Sy vrou, Marietjie, is twee jaar gelede ná ’n beroerte dood.
Hy word oorleef deur vier kinders.
De Milander beskryf sy vriend as iemand met ’n klein hartjie wie se trane sommer vinnig geloop het.
De Milander besit die Bushman’s Cave Bergteater op die plaas Oude Muur buite Clanwilliam.
“Hoewel Van Zyl baie arm grootgeword het, was hy nooit geldgierig en suinig nie. Hy het ’n ongelooflik oop hand gehad en het graag vir ’n bedelaar of bergie ’n geldjie in die hand gestop.”
De Milander sê sy vriend het veral die laaste paar jare sy Christenskap baie nougeset en toegewyd uitgeleef.
Sy vriend het baie stories gehad om te vertel, maar was te windverwaaid om al die stories bymekaar te hou en ordentlik te liasseer, vertel De Milander.
Hy en sy vrou, Melinda, het toe op ’n dag sonder Van Zyl se medewete al sy stories, wat in ’n boks of kas was, bymekaargemaak en ’n boek met al daardie stories in vir hom gemaak.
“Toe ons dié tuisgemaakte boek vir hom as geskenk gee, kon hy nie sy emosies beheer nie,” sê De Milander.
Hy skryf op Facebook Van Zyl was 25 jaar lank sy vaderfiguur, mentor en beste vriend.
“Ons het saam gelag en saam gehuil, maar jy het my ook altyd daaraan herinner om ons dankbaarheid teenoor God, ons Skepper, te betoon,” lui die plasing.
Hy sê Van Zyl se laaste jare was nie die teks soos ’n mens dit in ’n draaiboek sou wou skryf nie, maar sy vriend het met vrede in sy hart sy omstandighede aanvaar.
“Mag jy rus in vrede en weet dat ek daardie saamweestye altyd sal koester. Jy was werklik ’n besonderse mens,” skryf De Milander.








