Vincent Saffy (80), 'n bekende musikant van Bloemfontein wat as die Music Man bekend was en selfs op sy dag vir die Britse koninklikes gespeel het, is op 80-jarige ouderdom oorlede.
Adrian, sy seun, sê sy pa is Saterdag weens ouderdom dood.
Daar word Woensdag om 12:00 vir hom 'n diens in die Sacred Heart-katedraal in die stad gehou.
Saffy het jare lank die musiekskool Saffy's Music bedryf, en het oral in die land met sy orkes, Saffy's Jovial Dance Band, opgetree. Hulle het selfs jare gelede vir die Britse koninklikes gespeel met hul besoek aan Suid-Afrika, sê Adrian.
Volgens Wally Borchard, hoof van Christian Brothers' College, waar Saffy in die sestigerjare 'n leerling was, was Saffy 'n gerespekteerde sakeman in die musiekwêreld en 'n baie suksesvolle saxofoonspeler. "Hy was ook 'n baie aktiewe lid van die Sacred Heart-gemeente."
Ook die personeel van die Sunflower Children's Hospice het Maandag hul medelye uitgespreek. Saffy het oor twee dekades musiek by die hospies se funksies en fondsinsamelings gespeel.
Hy was ook betrokke by die Knights of Da Gama- en die Raadzaal-rotariërklub.
"Mag jy rustig by die Here wat jy op soveel maniere gedien het rus, en mag jy hemelse musiek saam met die engele tot in die ewigheid geniet."
Benewens Adrian word Saffy oorleef deur sy ander seuns, Paul en Dylan, en sy dogter, Sammy.












