’n Vrou van Newcastle in KwaZulu-Natal het weer begin praat en eet nadat ’n swart knopiespinnekop haar Woensdagoggend gebyt het.
Hoewel Shantell Venter (29) se spiere twee dae ná die byt steeds te seer is vir haar om te kan loop, kan sy darem weer eet en gesels, sê haar man, Theunis.
Shantell het Woensdagoggend vroeg badkamer toe gegaan om haarself gereed te maak vir die dag, toe sy voel hoe iets haar op haar heup byt.
Theunis sê hulle het eers vermoed dit is net ’n muskietbyt omdat die bytmerk soos dié van ’n muskiet gelyk het.

Later het Shantell se hande egter begin kramp, maar die egpaar het steeds nie veel daarvan gedink nie.
Hulle het kort daarna gaan Kersfees-inkopies doen, en toe Shantell later die oggend by die huis aankom, het sy op die bed inmekaargesak.
“Haar hele lyf het gekramp en sy was in geweldige pyn. Sy het gelyk soos ’n rugbybal wat inmekaartrek,” het Theunis Vrydagoggend aan Netwerk24 gesê.
“Ons was toe geweldig bekommerd omdat ons nie geweet het wat aan die gebeur is nie.”
Theunis sê sy vrou se hele lyf het erge spierspasmas gehad. Sy het ook erge hoofpyn gehad. Hy het dadelik ’n ambulans gebel.
Theunis het Donderdagoggend vroeg weer by die huis aangekom en in die badkamer begin rondsoek na iets wat sy vrou moontlik kon gebyt het. Dit is tóé dat hy die knopiespinnekop daar kry.
“Ek het geweet dit is dít wat vir Shantell gebyt het en ek het hom sommer dadelik doodgemaak,” sê Theunis.
“Dit was regtig ’n geweldige skok, maar ons is baie dankbaar haar toestand is besig om te verbeter,” sê hy.
















