Misdaad

Bankbedrog: Dís hoe hulle jou vang

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Vishing, tans die vernaamste slenter in bankbedrog, is waar 'n swendelaar 'n slagoffer bel en oortuig om geld uit hul bankrekeninge oor te dra.

Die bedrieërs gebruik sosiale manipulasie om eers slagoffers se vertroue te wen, dan oortuig hulle jou daar is 'n krisis, maak jou paniekerig en oortuig jou dat nét die beller jou nou dadelik kan help.

Die beste raad is (as jy kan) om nie nommers te antwoord wat nie in jou kontaklys is nie, sê Kevin Hogan, hoof van bedrogbestuur by Investec.

"Anders, as iemand jou bel en sê hulle is van die bank, gooi die foon neer nog voordat hulle jou kan intrek.

"Bel dan self jou bank met die nommer op jou bankkaart of wat jy by die bank self gekry het."

Maar selfs dan moet jy op jou hoede wees, sê Ulrich Janse van Rensburg, hoof van bedrogontleding by Absa. Moenie enige transaksies doen waar iemand jou oor die foon aanpor nie.

Dáárom dink jy dis die bank op die lyn

"Die swendelaars is uiters goed voorbereid en opgelei in wat hulle moet sê," sê Nick Harris, hoof van finansiële misdaad by Capitec.

Die profielfoto is die bank se logo, die kenwysie speel en op die agtergrond klink dit soos 'n oproepsentrum. Jy kan selfs deurgeskakel word na " 'n bestuurder".

Móénie op Truecaller staatmaak nie, waarsku die bankiers. Die swendelaars registreer hul nommers hier met beskrywings soos die bank se naam en dan bewoording soos "fraud unit".

Só is talle slagoffers reeds 80% oortuig dis die bank wat bel, sê een bankier.

Nóg 'n slenter is waar jy 'n SMS kry wat jou inlig van 'n transaksie, met 'n nommer wat jy moet bel as dit vals is. Moenie daai nommer bel nie - dis die skelms, sê Janse van Rensburg.

Slagoffers kry ook SMS'e oor transaksies waarop hulle ja of nee moet antwoord om dit "goed te keur".

As die slagoffer "nee" antwoord, bel die swendelaars dadelik - nog voordat jy die bank kan kontak.

Hoekom weet die skelms alles van my af?

Móénie aanneem dis die bank op die lyn omdat die persoon jou ID-nommer, huisadres, e-posadres, telefoonnommer óf bankbesonderhede het nie.

Miljoene mense se persoonlike inligting is beskikbaar weens data-lekkasies, sê Harris.

"Hulle gebruik ook subtiele skelmstreke, soos om die eerste paar nommers van jou bankrekening vir jou te lees."

Die eerste nommers vir 'n groot klomp rekeninge is inderwaarheid dieselfde.

In baie gevalle is die swendelaars reeds ingeteken op jou bankprofiel wanneer hulle bel. Hulle wen verder jou vertroue deur te sê hoeveel geld in watter rekeninge is en wat jou laaste transaksies was.

Hogan sê die swendelaars verkry toegang tot bankrekeninge deur veral phishing, waar jy e-pos kry wat jou bank se boodskappe naboots met onder meer logo's en bewoording.

Die slagoffer klik op die skakel na 'n vals webwerf en die skelms kan "sien" as jy aanmeldname en wagwoorde intik. Dit gebeur tot weke voordat hulle jou bel.

Só steel hulle jou geld

Nou oortuig die swendelaar jou om transaksies goed te keur en/of om jou eenmalige pinkode (OTP) aan hulle te gee.

Jy teken tydens die oproep in op jou aanlyn bankdienste of die bank se app en die bank stuur aan jou OTP's na jou selfoon om transaksies mee goed te keur.

Die swendelaar kan jou onder meer daarvan oortuig daar is onwettige transaksies wat jy moet "omkeer". Jy dink jy keer dit terwyl jy dit inderwaarheid magtig.

Die swendelaar kan jou ook manipuleer om geld na 'n ander rekening oor te dra om dit "veilig te hou".

Hieroor sê die bankiers:

• Die bank sal jou nooit telefonies vra om 'n OTP, jou CVV-nommer, pinkode of wagwoorde nie;

• Kyk na die SMS-boodskap saam met die OTP - dit sal sê wat jy gaan goedkeur;

• Die bank sal jou nooit vra om geld na 'n ander rekening oor te dra of transaksies om te keer nie; en

• Wees veral bedag op nauurse oproepe én waar iemand jou daarvan probeer oortuig daar is 'n onmiddellike krisis.

Beperk jou risiko

"Minimaliseer jou blootstelling, dink mooi oor of byvoorbeeld jou beleggingsrekeninge en buigsame huislening deel van jou profiel moet wees," sê Bonita Hughes van die bankombud by die Nasionale Finansiële Ombudskema (NFO).

"As jy nie jou aanlyn profiel daarvoor gaan gebruik nie, laat die bank dit afhaal."

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM