Misdaad

Gebedsgroep beroof tydens aanddiens

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto ter illustrasie
Foto ter illustrasie (No Credit)

Die polisie in KwaMhlanga, Mpumalanga is in ’n groot mensejag na ses gewapende rowers betrokke ná ’n rooftog by ’n kerk in die Suncity A-woonbuurt.

Brig. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder, sê die rooftog het Vrydagaand omstreeks 23:30 tydens ’n naggebedsdiens plaasgevind.

Luidens ’n verslag was sowat 60 gemeentelede by die gebedsdiens toe ses gewapende mans die perseel bestorm het, sê hy.

Die aanvallers het na bewering die slagoffers met vuurwapens gedreig en hulle beveel om plat te lê. Die rowers het die gemeentelede van selfone, beursies, klere-items, sowel as ’n onbekende bedrag kontant gestroop.

Die rowers het daarna die ligte afgeskakel en gevlug.

Die polisie ondersoek ’n saak van sakeroof, sê Mdhluli.

Tot op hede is daar geen inhegtenisnemings nie en die polisie doen ’n beroep op lede van die gemeenskap vir enige inligting wat kan help om die rowers te identifiseer en in hegtenis te neem.

Genl.maj. Zeph Mkhwanazi, waarnemende provinsiale polisiekommissaris sê die polisie en kerke moet saamwerk om sekuriteit by plekke van aanbidding te verskerp.

“Hierdie soort misdaad by aanbiddingsplekke weerspieël die morele verval in ons samelewing. Ons doen ’n beroep op gemeenskapslede om nie vermoedelik gesteelde eiendom te koop nie, want dit versterk die mark vir sulke afskuwelike misdade.”

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM