'n Kranige veteraanfietsryer van Bantrybaai, Kaapstad, is dood nadat hy Sondag in Kaapstad op sy fiets met 'n bottel aangerand en van sy selfoon beroof is.
Dennis Hammar (76), wat 'n lid van Club 100 was, is Dinsdag weens komplikasies ná 'n operasie in die Christiaan Barnard-gedenkhospitaal dood.
Kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder, het bevestig die polisie ondersoek 'n voorval van roof nadat Hammar omstreeks 10:00 van sy fiets afgestamp is.

Die voorval het op die N1-snelweg naby FW de Klerk-boulevard plaasgevind.
Luidens berigte het Hammar van Paardeneiland af op die N1-snelweg gery waar dit by FW de Klerk-boulevard aansluit toe 'n onbekende man hom van sy selfoon beroof het. Die man het weggehardloop.
Van Wyk sê Hammar is hospitaal toe geneem en die polisie is Dinsdag net ná 23:00 van sy dood ingelig. 'n Lykskouing sal gedoen word om die oorsaak van sy dood te bepaal en 'n geregtelike doodsondersoek sal gedoen word.
Lester Aderem, 'n goeie vriend van Hammar, sê sy vriend het Sondag besluit om alleen te gaan fietsry. Hy is met 'n glasbottel geslaan en van sy fiets afgestamp. Hy het teen die sypaadjie geval en die rower is weg met sy selfoon.
Hammar het sy heup en skouerblad gebreek en verskeie skaafplekke gehad weens die valslag.
Hy is in die Mediclinic in Tuine opgeneem en is later na die Christiaan Barnard-gedenkhospitaal oorgeplaas. Hy is Maandag geopereer omdat dokters gedink het daar het moontlik 'n bloedklont in sy been gevorm.

Dit blyk volgens Aderem dat daar komplikasies was ná die operasie wat tot hartstilstand gelei het.
Aderem was in Mauritius, waar hy steeds is, toe hy uitvind van sy vriend se afsterwe. Hy sê hy is platgeslaan en beskryf Hammar as "die wonderlikste man wat jy ooit sal ontmoet". Hammar was 'n ingenieur wat sy eie onderneming besit het.
"Sy kinders is almal 'n lewende voorbeeld van hom. Al vier woon oorsee in verskillende lande.
"Dennis was ongelooflik bedagsaam. Hy het hom altyd oor ander ontferm en my geleer om altyd verhoudinge, of dit met vriende of familie is, te waardeer."
Craig Sedras, voormalige voorsitter van die Club 100-fietsryklub in Kaapstad, sê Hammar is al 'n lid sedert die klub gestig is. Die klub is nou al sowat 30 jaar oud.
Hammar, wat ook die tesourier was, is as erelid aangewys vanweë sy lang verbintenis met die klub.
Sedras sê hulle probeer altyd bewustheid skep, in samewerking met die Pedal Power Association (PPA), van die risiko's vir fietsryers.
Sedras het ook Woodstock genoem en gesê fietsryers word veral by die brug geteiken.
"Ons is woedend oor al die aanvalle. Ek het self aanmekaar gesê iemand gaan nog sterf - of dit nou die fietsryer of die aanvaller is - en kyk nou."
Sedras sê Hammar was 'n "sagte ou" wat nooit 'n skewe woord oor enigiemand te sê gehad het nie.
"Hy het altyd 'n glimlag op sy gesig gehad en die jonger lede van die klub aangemoedig. Almal het groot respek vir hom gehad."
Sedras vra dat daar ernstig opgetree moet word teen die haweloses in Kaapstad wat fietsryers aanval, veral in die Woodstock-omgewing.
Neil Robinson, hoof van die PPA, sê aanvalle op fietsryers is 'n voortdurende probleem.
Hy sê die PPA is in gesprek met verskeie belanghebbendes om sekere gebiede veiliger te maak. Die ingrypings tot dusver was egter nie heeltemal suksesvol nie.
"Almal doen hul bes met die hulpbronne wat tans beskikbaar is," sê Robinson.
JP Smith, Kaapstad-metro se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, sê Transnet is die eienaar van die onwettig besette grond aangrensend aan Onder-Kerkstraat, Woodstock, wat 'n onveilige gebied vir fietsryers is.
Volgens Smith het Transnet 'n uitsettingsproses begin en kennisgewings is op 7 Julie deur die balju bedien.
Smith sê ook wetstoepassing, die metropolisie en verkeersdienste werk saam met die Woodstock-polisie om die gebied te patrolleer.
Hy sê die Kaapstad-metro het in Januarie vanjaar 'n maand lange operasie uitgevoer om roof daar aan te pak.
Transnet het bevestig hy het met die proses begin om 'n uitsettingsbevel te kry vir mense wat die Culemborg-distrik in die Kaapse hawe onwettig beset. Dit is naby hierdie gebied waar Hammar aangeval is.
Die uitsettingskennisgewing sal bedien word 14 dae voor die hofuitspraak, wat na verwagting op 6 Augustus 2025 gelewer word, in samewerking met alle belanghebbendes.
In ooreenstemming met Transnet se planne vir die ontwikkelingsraamwerk vir die hawe is die gebied vir ontwikkeling geoormerk.
Robinson doen 'n beroep op fietsryers om altyd in groepe te ry en waar moontlik onveilige gebiede te vermy.
"Ons woon in 'n baie gevaarlike land met maatskaplike kwessies wat baie van ons nie verstaan nie. Daar was onlangs ook voorvalle van aanranding in Cloetesville en Johannesburg. Asseblief, wees waaksaam en bly veilig."
Hammar se begrafnisreëlings moet nog gefinaliseer word.
Die polisie vra dat enigiemand met inligting oor die voorval die Stop Misdaad-nommer, 08600 10111, bel.




















