’n Man wat nege dae aangehou is, is die naweek gered waar hy in ’n hostel in Soweto aangehou is.
Agt mense sou Maandag in die landdroshof in Lenasia verskyn op verskeie aanklagte van ontvoering en afpersing, aangesien dit blyk dat die beskuldigdes by meer as een voorval betrokke was, sê kol. Dimakatso Nevhuhulwi, polisiewoordvoerder.
Die 43-jarige slagoffer het op 9 Januarie saam met sy vrou van die werk af in die rigting van Booysens in Johannesburg gereis toe vier mans in ’n Toyota Quantum-voertuig hulle voorgekeer het, sê Nevhuhulwi in ’n verklaring.
“Die slagoffer is in die beskuldigdes se voertuig gedwing, waarna hulle weggejaag en die vrou alleen agtergelaat het. Sy het die polisie gekontak en ’n saak van ontvoering is by die Kliptown-polisiekantoor aanhangig gemaak. Hulpbronne is dadelik ingeroep om na die slagoffer te soek.
“Ná die ontvoering is ’n losprys van die slagoffer se familie geëis. Daar is ook vasgestel dat verskeie onttrekkings uit sy bankrekening gedoen is. Die beskuldigdes se fone is nagespoor en daar is vasgestel hulle werk uit die Jeppe-, die Nancefield- en die Mzimhlophe-hostel in Soweto,” sê Nevhuhulwi.
Verskeie spanne van die polisie het Saterdag saam met ’n gyselaarsonderhandelaar op die hostelle toegeslaan. By die Jeppe-hostel is vier beskuldigdes vasgetrek. Hulle is ná verdere ondersoekwerk verbind met nog twee ontvoeringsake verlede jaar in Jeppe en Diepsloot.
Gewapen met dié inligting is nog drie beskuldigdes in Diepsloot opgespoor en ’n ander een in Orlando. Hy was in die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen. Die slagoffer is by die Mzimhlophe-hostel gevind en met sy familie herenig.




















