Misdaad

Ontvoerde sakeman se lyk glo gevind

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Roger Brijlal se lyk is volgens inligting op 16 September in Philippi-Oos gevind.
Roger Brijlal se lyk is volgens inligting op 16 September in Philippi-Oos gevind. (Foto: Verskaf)

Die lyk van die ontvoerde sakeman Roger Brijlal (59) van Milnerton is blykbaar op 16 September in Philippi-Oos gevind. Dit is nog onbekend hoe hy dood is.

Brijlal is op 9 September as vermis aangemeld nadat hy nie by sy onderneming, Albatross Maritime Services, opgedaag het nie.

Sy bakkie, ’n VW Amarok, is dieselfde dag verlate in die township Joe Slovo Park by Milnerton gevind.

Ingeligtes het Woensdag gesê ’n losprys van meer as R1 miljoen is vir Brijlal geëis. Dit is glo nie betaal nie.

Die polisie het blykbaar op 16 September ’n oproep gekry dat ’n lyk in Philippi-Oos gevind is.

Brijlal is glo deur ’n vennoot uitgeken, maar volgens inligting nog nie amptelik deur sy familie nie.

’n Persoon wat Brijlal geken het, het gesê hy sou hom nie sonder ’n geveg aan sy ontvoerders oorgegee het nie. Hy was volgens die persoon alombekend as ’n “hardegat mens”.

Catherine (Cathy) Hutchinson, Brijlal se gewese lewensmaat en die ma van sy kinders, het Woensdag gesê hulle is deur die polisie opdrag gegee om nie met die media te praat nie.

Intussen het sers. Wesley Twigg, polisiewoordvoerder, gesê speurders van die provinsiale taakspan wat ontvoerings ondersoek, bekyk die ontvoering van ’n 59-jarige man op 9 September in die Milnerton-omgewing.

Twigg het gesê die ontvoering van en moord op die nog onbekende man wat in Philippi-Oos gevind is, word ondersoek.

Die lyk moet nog amptelik uitgeken word.

“Dit is nog te vroeg om verdere besonderhede bekend te maak,” het Twigg gesê.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM