Misdaad

Vyf mans vas ná skool in Vrystaat besteel, geplunder is

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Vyf mans wat glo verskeie items van 'n tegniese skool in Bloemfontein gesteel het, sal na verwagting binnekort in die landdroshof in die stad verskyn.

Die mans, wat tussen 21 en 34 jaar oud is, is in 'n gesamentlike operasie deur die blitspatrollie in Bloemfontein vasgetrek ná 'n inbraak by die Hodisa Technical Secondary School, sê Mahlomola Kareli, 'n polisiewoordvoerder.

Kareli sê gesteelde lugversorgers, koperpype, 'n Bosch-slypmasjien en 'n Bosch-boor is by die mans gevind.

Hulle is Woensdag in hegtenis geneem nadat die polisie 'n wenk ontvang het oor 'n groep mans wat vermoedelik gesteelde eiendom by 'n huis in Rocklands opsny.

Toe die polisie daar aankom, het die verdagtes lugversorgers en koperpype opgesny. Dit is later as die gesteelde eiendom van die skool geïdentifiseer.

Foto ter illustrasie.
Foto ter illustrasie.

Die diefstal by die skool het Woensdag in die vroeë oggendure plaasgevind.

Kareli sê die verdagtes het by die skool se tegniese laboratorium ingebreek en weggekom met die items wat nou deur die polisie teruggevind is.

Die polisie in Kagisanong doen 'n beroep op die inwoners om met wetstoepassing saam te werk om soortgelyke misdade te voorkom.

Die ondersoekspan soek na nog verdagtes wat na bewering betrokke is by onlangse inbrake by skole. Items is nie net gesteel nie, maar eiendom wat bedoel is vir die onderrig van leerlinge is beskadig, sê Kareli.

Enigiemand met inligting oor die voorval, wat weet waar die ander verdagtes hulle bevind of inligting oor gesteelde eiendom het, word versoek om die Kagisanong-polisie se speursers. Teboho Monnye by 082 465 5945 te kontak.

Wenke kan ook anoniem aangemeld word via die polisie se Stop Misdaadnommer, 08600 10111, of op die My SAPS-toepassing.

Die vyf wat pas in hegtenis geneem is, sal binnekort in die hof verskyn weens die besit van vermoedelik gesteelde eiendom.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM