'n 36-jarige vrou en 30-jarige man is Saterdag in Mthatha in die Oos-Kaap deur speurders verbonde aan die Whittlesea-polisiekantoor en lede van die taktiesereaksie-eenheid in hegtenis geneem in verband met die moord op Bongiwe Ramncwana, 'n klerk in die polisie.
Ramncwana is Donderdag by haar huis in Sada, ook in die Oos-Kaap, deur onbekende mense doodgeskiet.
Die Oos-Kaapse polisie het Saterdag by monde van kapt. Namhla Mdleleni gesê inligting wat hulle ontvang het, het hulle eerste na die Ngangelizwe-township in Mthatha gelei waar hulle die 36-jarige vrou in hegtenis geneem het.

Nog verdere inligting is ontvang en opgevolg. Die inligting het die polisie na die Chris Hani-township gelei waar die 30-jarige man in hegtenis geneem is. Hy was volgens die polisie ook by die aanval op Rhamncwana betrokke.
Die polisie het ook beslag gelê op 'n gehuurde voertuig wat deur die skieters gebruik is in die aanval. Volgens die polisie duur die ondersoek voort. Die twee mense wat in hegtenis geneem is, sal Maandag in die landdroshof in Whittlesea op aanklagte van onder meer moord verskyn.
Intussen het maj.genl. Rudolph Adolph, die distriksbevelvoerder vir die Chris Hani-distrik in die Oos-Kaap, die goeie werk deur die ondersoekspan geprys en gesê dit kan net help dat hulle vinnig vervolg sal word.















