Vyf van Lesotho swaar gestraf ná dag van erge geweld

20250619 NETWERK24 Misdaad
20250619 NETWERK24 Misdaad

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Vrystaat het die swaar straf van vyf burgers van Lesotho verwelkom wat een dag ’n skrikbewind in Welkom gevoer het.

Hulle is in die streekhof in Welkom skuldig bevind aan die moord op twee mense en die verkragting van twee vroue wat ’n gemeenskap getraumatiseer het, sê Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder.

Thabang Makepisi (35) is op twee aanklagte van moord elk tot lewenslange tronkstraf gevonnis, weens roof met verswarende omstandighede tot 15 jaar, op twee aanklagte van ontvoering tot drie jaar elk, op twee aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer tot drie jaar elk en weens ’n oortreding van die Immigrasiewet tot nog drie jaar. Hy is ook tot ’n verdere 15 jaar gevonnis weens die besit van ’n vuurwapen en tot drie jaar weens die besit van ammunisie.

Lerato Maru Thoi (39) is 15 jaar tronkstraf opgelê weens verkragting en twee jaar weens die oortreding van die Immigrasiewet.

Hetshidisitswe Sajene Hatasi (40) is tot lewenslange tronkstraf gevonnis weens verkragting en tot twee jaar weens die oortreding van die Immigrasiewet.

Senaunoa Khomo Mokutoane (31) is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis weens die onwettige besit van ’n vuurwapen en tot twee jaar weens die onwettige besit van ammunisie.

Nathaniel Molele Rakhomo (35) is 15 jaar tronkstraf opgelê weens roof met verswarende omstandighede, drie jaar weens ontvoering, drie jaar weens aanranding met die doel om ernstig te beseer en twee weens ’n oortreding van die Immigrasiewet.

Twee mans is laat in September op alle aanklagte teen hulle vrygespreek.

Volgens Senokoatsane is die misdade op 14 Junie 2020 gepleeg by die huis van ’n egpaar wat alkohol vanuit hul woning verkoop het.

’n Rusie het ontstaan nadat die man die groep versoek het om die perseel te verlaat. Een van die beskuldigdes het hom verskeie kere geskiet en hy is dood.

Die aanvallers het toe die gesin beroof van onder meer ’n TV, kos, drank, selfone en kontant. Die vrou is verkrag voordat sy doodgeskiet is.

Senokoatsane sê die buurt se beproewing het voortgeduur toe die groep ’n 25-jarige buurvrou ontvoer het wat verskeie kere verkrag is.

Hulle het ook probeer om die egpaar se 18-jarige dogter te verkrag, maar het gevlug toe hulle ’n polisievoertuig gewaar het, sê Senokoatsane.

Hy sê ná intensiewe ondersoeke, onder meer DNS- en ballistiese ondersoeke, is die mense op 16 Junie 2020 opgespoor en in hegtenis geneem.

Die aanklaerspan onder leiding van Raymond McBetty en in oorleg met adv. Ramontsheng Lekhetho het gevra dat die maksimum vonnisse opgelê word weens die wreedheid van die misdade.

“Die vonnisse weerspieël die erns van die misdade en dra ’n duidelike boodskap oor dat sulke geweld nooit geduld sal word nie,” sê Senokoatsane.

SPELETJIES VANDAG

CTA