Munisipaliteite

235-beweging eis: ‘Los Kleinfontein uit’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Obakeng Ramabodu, burgemeesterskomiteelid vir omgewings- en landboubestuur, saam met Willie Cloete en Wessel Basson
Obakeng Ramabodu, burgemeesterskomiteelid vir omgewings- en landboubestuur, saam met Willie Cloete en Wessel Basson (Foto: FC Pelser)

Afgevaardigdes van die 235-beweging het Vrydag by die Kleinfontein-kultuurdorp in Donkerhoek, Pretoria, byeengekom om ’n memorandum ter ondersteuning van selfbeskikking aan die dorpsbestuur en die Tshwane-metro te oorhandig.

Die 235-beweging is ’n politieke organisasie wat hom toespits op die bevordering van selfbeskikking en daarom is besluit om die memorandum op te trek om sy misnoeë met die metro se “boeliegedrag” te kenne te gee.

Die 235-beweging het ’n memorandum opgestel om hul steun aan die Kleinfontein-gemeenskap te wys.
Die 235-beweging het ’n memorandum opgestel om hul steun aan die Kleinfontein-gemeenskap te wys. (Foto: FC Pelser)

Willie Cloete, ’n stigterslid van die beweging, het tydens die byeenkoms aan Netwerk24 gesê hulle wil met die memorandum die metro se “onbillike optrede teen Kleinfontein” pak.

Jannie Groenewald, medestigter van Kleinfontein, en Willie Cloete van die 235-beweging.
Jannie Groenewald, medestigter van Kleinfontein, en Willie Cloete van die 235-beweging. (Foto: FC Pelser)

“Die voortdurende politiese aanvalle op Kleinfontein ondermyn die gemeenskap se reg tot selfbeskikking soos dit uiteengesit is in art. 235 van die Grondwet,” sê Cloete.

Cloete sê dit is juis hierdie artikel wat die naam van die beweging geïnspireer het.

Die memorandum volg op ’n beslissing van die hooggeregshof in 2024 wat Kleinfontein “onwettig” verklaar het weens oortredings van verskeie dorpsregulasies. Intussen het die metro die hof ook gevra om te verhoed dat verdere ontwikkeling op die dorp plaasvind.

LEES OOK | Tshwane ‘bid’ dat Kleinfontein aan wetgewing voldoen, of dit word gesloop

20 verteenwoordigers van die beweging het tydens Kleinfontein se amptelike herdenking van Paul Kruger se 200ste verjaardag dié memorandum ook aan Jannie Groenewald, een van die stigters van die gemeenskap, oorhandig.

Wat vreedsaam begin het, het egter buite die dorpshekke in ’n moddergooiery ontaard tussen die beweging en Obakeng Ramabodu, burgemeesterskomiteelid vir omgewings- en landboubestuur, nadat hy die memorandum namens die metro in ontvangs geneem het.

’n Woordewisseling het uitgebreek kort nadat Obakeng Ramabodu, burgemeesterskomiteelid vir omgewings- en landboubestuur, die memorandum in ontvangs geneem het.
’n Woordewisseling het uitgebreek kort nadat Obakeng Ramabodu, burgemeesterskomiteelid vir omgewings- en landboubestuur, die memorandum in ontvangs geneem het. (Foto: FC Pelser)

Ramabodu hou voet by stuk Kleinfontein is ’n onwettige nedersetting en beskuldig die gemeenskap daarvan dat hulle rassisties is en “apartheidsideale nastreef”.

Hy sê Kleinfontein is een van 17 onwettige nedersettings wat deur die metro geïdentifiseer is. Tog hou die beweging voet by stuk dat hy uitermatig deur die metroraad geteiken word.

Die ontmoeting het terstond geëindig ná ’n moddergooiery tussen Obakeng Ramabodu, burgemeesterskomiteelid vir omgewings- en landboubestuur, en lede van die 235-beweging.
Die ontmoeting het terstond geëindig ná ’n moddergooiery tussen Obakeng Ramabodu, burgemeesterskomiteelid vir omgewings- en landboubestuur, en lede van die 235-beweging. (Foto: FC Pelser)

Ramabodu het kort ná sy besoek aan Kleinfontein hom op sosiale mediauitgespreek teen die beweging en die Kleinfontein-gemeenskap. Hy beskuldig hulle daarvan dat “hulle onafhanklikheid buite die Grondwet soek”.

Wessel Basson, medestigter van die 235-beweging, het die memorandum namens die beweging aan Ramabodu oorhandig.

Wessel Basson, medestigter van die 235-beweging.
Wessel Basson, medestigter van die 235-beweging. (Foto: FC Pelser)

Volgens Basson fokus hierdie memorandum nie bloot op die bevordering van eksklusiewe Afrikaner-gebiede nie, maar benadruk die voordele van selfbeskikking.

“Die 235-beweging is in die proses om as onafhanklike politieke party te registreer en beoog om volgende jaar aan die verkiesing deel te neem.”

Die beweging het in ’n verklaring gesê deel van hul politieke visie is om wyke oor Suid-Afrika heen te wen en dit formeel tot “235-wyke” te verklaar.

“Hierdie wyke sal die grondslag vorm van selfregerende munisipaliteite, in ooreenstemming met art. 235 van die Suid-Afrikaanse Grondwet.”

Francois van der Merwe is ook bekend gestel as die beweging se burgemeesterskandidaat in Tshwane.

Francois van der Merwe is bekend gestel as die 235-beweging se burgemeesterskandidaat in die Tshwane-metro.
Francois van der Merwe is bekend gestel as die 235-beweging se burgemeesterskandidaat in die Tshwane-metro. (Foto: FC Pelser)

Van der Merwe meen die organisasie het ’n verantwoordelikheid om gemeenskappe soos Kleinfontein “los te maak van die huidige bestel”.

“Ons kan nie meer boeliegedrag duld nie. Dit is nie net ons reg nie, maar ook ons verantwoordelikheid om seker te maak dat ons onsself losmaak van die politieke bestel en daarom trek ons vandag ’n streep in die sand.”

– fc.pelser@media24.com

fc pelser

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM