Munisipaliteite

DA kla oor Vrystaatse museums

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die dak van die Ou Presidensie-museum in Bloemfontein.
Die dak van die Ou Presidensie-museum in Bloemfontein. (Foto’s: Verskaf)

Die DA het ’n beroep op die Vrystaatse LUR vir sport, kuns, kultuur en ontspanning gedoen om die 11 provinsiale museums onder haar bestuur te laat herleef sodat hul ekonomiese en toerismepotensiaal verwesenlik kan word.

In ’n verklaring Dinsdag, op die vooraand van Erfenisdag Woensdag, sê die party daar is ’n dringende behoefte aan beter bestuur, benutting en toekenning van hulpbronne aan provinsiale museums.

DA-toesigbesoeke het die haglike toestand van baie van die museums en erfenissentrums aan die lig gebring, sê Werner Pretorius, ’n DA-LPW in die Vrystaat.

Die vernielde plankvloer by die Basotho-kultuurdorp in Qwaqwa.
Die vernielde plankvloer by die Basotho-kultuurdorp in Qwaqwa.

Hy sê verskeie van die museums ervaar ernstige instandhoudingsprobleme, insluitend lekkende dakke en beskadigde geute, riool-verwante probleme en verwaarloosde terreine.

Die museums sluit in die Ou Presidensie-museum in Bloemfontein; die Basotho-kultuurdorp (Qwaqwa); die Dingolweng-Sesotho-Letterkundemuseum en die Nasionale Afrikaanse Letterkundemuseum en Navorsingsentrum, wat in die Ou Regeringsgebou gehuisves is; die Queen’s Fort- Militêre Museum; die Transgariep-museum in Philippolis; en die Caledonrivier-museum in Smithfield.

Die DA doen ’n beroep op die LUR en haar departement om met die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, geleë in Bloemfontein, in gesprek te tree en hul praktyke as maatstaf te gebruik.

Hierdie museum het onlangs twee gesogte toekennings ontvang, wat die uitsonderlike bestuur en prestasie van die instelling onderstreep, sê Pretorius.

Die Ou Presidensie-museum in Bloemfontein.
Die Ou Presidensie-museum in Bloemfontein.

Die Oorlogsmuseum is oor die jare opgebou tot ’n wêreldklas-museum met moderne uitstallings, gereelde toevoegings en ’n inklusiewe, gesinsvriendelike omgewing. Die ouditeur-generaal (OG) het die museum onlangs geloof vir sy goeie finansiële en prestasiebestuur, met sy derde opeenvolgende skoon oudit en altesaam 15 skoon oudits in die onlangse verlede, voeg Pretorius by.

“Daarbenewens is die Oorlogsmuseum aangewys as een van die top-drie-museums in Suid-Afrika vir 2025 by die Nasionale Kuns- en Kultuurtoekennings.

Hy sê die Oorlogsmuseum, wat onder die nasionale departement van sport, kuns, kultuur en ontspanning val, staan in skerp kontras met die meeste museums in die provinsie wat onder die Vrystaatse regering val.

“Die provinsiale bates behoort ’n sleutelrol te speel in die ekonomiese ontwikkeling van dorpe en die provinsie in sy geheel.”

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM