Die DA in Mangaung sê die toestande by die suidelike stortingsterrein in Bloemfontein is ’n gesondheids- en omgewingsramp wat nie langer geïgnoreer kan word nie.
Die party doen ’n beroep op Saki Mokoena, Vrystaatse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, om onmiddellik in te gryp.
Volgens David van Vuuren, DA-raadslid en Mangaung-kiesafdelingshoof, en Dave McKay, DA-woordvoerder oor samewerkende regering en tradisionele sake in die Vrystaatse wetgewer, het ’n onlangse toesigbesoek “talle voorbeelde van gesondheids-, omgewings- en statutêre oortredings” aan die lig gebring.
“Ons het weer eens verslae ontvang dat brande op die stortingsterrein uitgebreek het – ’n herhalende probleem wat die inwoners van naburige woonbuurte verontrief,” sê Van Vuuren.
“Rook en roet bedek hul eiendomme en besoedel die lug so dat dit dikwels byna onmoontlik is om asem te haal.”
Die DA sê die mees onlangse brand het die munisipaliteit meer as ’n week geneem om onder beheer te bring. ’n Tekort aan geskikte geelvloot-voertuie om afval te skei en rampe te voorkom, vererger glo die situasie.
Die Mangaung-metro het aan die DA bevestig dat ’n plan goedgekeur is om die terrein te rehabiliteer en te laat voldoen aan omgewingsvereistes. Dit behels onder meer heinings, die verwydering van onwettige plakkers en ou bande, en verbeterde toegang.
Vullis langs pad gestort
Van Vuuren waarsku egter dat toegang tot die terrein self ’n groot uitdaging is. “Die nuwe brug oor Vereeniginglaan het die afstand wat voertuie moet ry om die terrein te bereik, met meer as 16 km verleng. Dit lei daartoe dat mense hul vullis onwettig langs die pad stort – ’n groot openbare gesondheidsrisiko.”
Die DA gaan die metro versoek om die toegangspad vanaf die noordekant oop te stel om verligting te bring.
Volgens Sello More, munisipale bestuurder, is die munisipaliteit ten volle bewus van die uitdagings rakende afvalbestuur en die voldoening van stortingsterreine aan die wet.
“Dis belangrik om te verstaan dat ons onder ’n streng gereguleerde raamwerk werk en voortdurend deur die omgewingsowerhede dopgehou word. Hoewel daar gebiede van nienakoming is, is herstelprosesse en opgraderings oor fases heen reeds aan die gang,” sê More.
Die metro se Waste Management Reform-program fokus op infrastruktuurherstel, regulatoriese nakoming, beter omgewingsmonitering, strategiese vennootskappe om volhoubare alternatiewe soos herwinningsgeriewe en afval-tot-energie-projekte te ontwikkel, en onmiddellike risikoverligting vir omliggende gemeenskappe.
“Afvalbestuur is ’n nasionale uitdaging, maar Mangaung het dit as ’n kernprioriteit in ons institusionele omkeerstrategie geplaas. Ons wil saam met die gemeenskap en die private sektor werk om oplossings te versnel wat die omgewing en die gesondheid van inwoners beskerm,” sê More.
5506




















