Bewerings dat R4 miljard uit Johannesburg Water se sak verdwyn het, is “vals, roekeloos en misleidend”, sê Dada Morero, burgemeester.
Hy het inwoners Saterdag in ’n verklaring verseker dat geen openbare geld voete gekry het nie en benadruk dat die Johannesburg-metro se finansies in orde is.
“Hierdie bewerings, wat wyd op sosiale media en in sommige openbare forums gedeel word, is heeltemal ongegrond, roekeloos en skep onnodige paniek onder inwoners en belanghebbendes.”
Hy vermoed dit spruit uit verwarring oor ’n gevestigde finansiële praktyk. Daarvolgens word alle munisipale entiteite, soos Johannesburg Water, se geld aan die einde van die sakedag na die metro se hoofrekening oorgeplaas.
Morero verduidelik dat hierdie stelsel kontantvloei beter beheer, bankkoste verlaag en ook keer dat groot bedrae nutteloos in afsonderlike rekeninge lê.
Volgens Morero kan daar duidelik in die metro se rekeningstaat vir Julie 2025 gesien word dat geen geld “verdwyn” het nie. Dit het met sowat R4 miljard begin en teen die einde van die maand was die saldo luidens die verklaring R3,7 miljard.
Die metro benadruk dat alle transaksies naspeurbaar is en entiteite steeds beheer oor hul eie geld het.
“Ons veroordeel die doelbewuste verspreiding van waninligting wat die publiek se vertroue (in die metro) ondermyn en die aandag aflei van die eintlike werk om basiese dienste aan ons gemeenskappe te lewer.”




















