Die kusdorp Kleinsee in die Noord-Kaap is al 37 dae sonder water en inwoners verloor moed dat daar ooit betroubare waterverskaffing sal wees.
Die Kleinsee-grondeienaarsvereniging gaan hom nou weens die benarde situasie tot die Menseregtekommissie (MRK) wend.
Die Nama Khoi-munisipaliteit het Donderdag bevestig daar is steeds probleme met die waterstelsel ondanks pogings om dit te stabiliseer.
Volgens die munisipaliteit het die Vaal Sentrale Waterraad Woensdag die Little Crest-reservoir in Nababeep geprioritiseer om ’n bestendige invloei na Kleinsee moontlik te maak. Die reservoir het Donderdagoggend 20%-kapasiteit bereik, wat as voldoende beskou word om die Kleinsee-pypleiding te vul en ’n konstante invloei na die dorp se reservoir moontlik te maak. ’n Kragonderbreking by Garagoup het die proses egter vertraag en die pomp van water belemmer, maar die tegniese span van die munisipaliteit is besig met herstelwerk.
Die krisis het spanning tussen die munisipaliteit en waterraad veroorsaak.
Jason Milford, munisipale woordvoerder, sê een van die grootste probleme is die waterraad se gebrek aan reaksie op kwessies wat oor ’n lang tydperk aangemeld is, asook swak kommunikasie tydens kritieke operasionele probleme. Hy wys daarop dat die probleme reeds sedert 2021 voortduur.
Volgens hom is die saak tydens ’n vorige burgemeester se termyn na die MRK verwys weens die impak op gemeenskappe en dienslewering, maar die waterraad voldoen glo steeds nie aan die aanbevelings wat destyds gemaak is nie.
Die munisipaliteit sê hy bly wetlik verantwoordelik om water aan al 22 gemeenskappe in sy jurisdiksie te verskaf ondanks afhanklikheid van eksterne grootmaatwaterinfrastruktuur. Volgens Milford bestee die munisipaliteit miljoene rande aan noodwatervervoer, logistieke ondersteuning en ander ingrypings om inwoners by te staan.
Attie Boshoff, van die grondeienaarsvereniging, waarsku in ’n formele brief dat inwoners regstappe sal oorweeg as die situasie nie opgelos word nie. In die brief word aangevoer dat Kleinsee sedert 22 April heeltemal sonder water is, met ernstige gevolge vir die gesondheid en veiligheid van inwoners. Sowat 380 huise is sonder water en die skoolkoshuis met 120 inwoners ook.
Boshoff sê daar is bejaarde en verswakte inwoners wat nie hul huise kan verlaat om daagliks 25 liter water by watertenkwaens te gaan haal wat aan elke huishouding toegeken word nie.
Veronica van Dyk, van Holgoun Mining, sê die toestande in Kleinsee is onuithoudbaar en dat die inwoners erg daaronder ly.
“Die boodskappe wat aan die gemeenskap oorgedra word oor die watertoevoer verskil en maak die gemeenskap bitter kwaad en moedeloos.”
Rendani Ramudzuli, woordvoerder van die waterraad, was baie ontwykend oor Netwerk24 se navrae oor waar die toevoerprobleme ontstaan. Hy het slegs gesê dat die waterraad grootmaatwater aan die munisipaliteit by Nababeep verskaf, waarna die Nama Khoi-munisipaliteit verantwoordelik is vir die verspreiding daarvan na Nababeep en Kleinsee.
“Wanneer daar uitdagings is, kommunikeer ons dit aan die munisipaliteit,” is al wat Ramudzuli gesê het.









