Munisipaliteite

Só lyk reddingsplan vir Theewaterskloof-munisipaliteit

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die Siyanyanzela- informele woonbuurt in Grabouw. Foto: Jaco Marais
Die Siyanyanzela- informele woonbuurt in Grabouw. Foto: Jaco Marais

Die omvangryke gemors waarin die Theewaterskloof-munisipaliteit gedompel is, behels onder meer onreëlmatige besteding en slegte skuld van honderdmiljoene rande, beamptes wat uitermatig baie siekverlof neem en tenders wat onreëlmatig toegeken is.

Dié munisipaliteit, wat onder meer Genadendal, Villiersdorp, Grabouw en Elgin insluit, se boeke staan op minstens R353 miljoen se onreëlmatige besteding. Daar is nie genoeg geld vir die huidige boekjaar se begrote uitgawes nie.

Die nasionale tesourie, die Wes-Kaapse provinsiale tesourie en die munisipaliteit het saamgewerk aan 'n konsep-reddingsplan, wat tot 27 Augustus oop is vir openbare deelname.

Volgens die reddingsplan het die ouditverslag vir die 2023-'24-boekjaar daarop gewys dat goedere en dienste met 'n transaksiewaarde van minder as R300 000 gekry is sonder die vereiste pryskwotasies. Sommige goedere en dienste waarvan die transaksiewaarde hoër as R300 000 is, is gekry sonder enige mededingende tenderprosedures. Maatreëls is ook nie ingestel om te verseker dat die goedere en dienste doeltreffend gelewer is nie.

Luidens 'n verslag ter ondersteuning van die reddingsplan het Theewaterskloof se jaarlikse kontanttekort jaar ná jaar en teen 'n onvolhoubare koers gestyg.

Weens die munisipaliteit se onvermoë om kredietbeheer en skuldinvordering toe te pas, was die agterstallige skuld aan die munisipaliteit teen einde Februarie vanjaar op R384 miljoen.

Van die lang lys probleme met die munisipale administrasie sluit in dat 'n register nie opgestel is van wie die eienaars van die Hop-huise is nie en dat dié huise verkoop word en nuwe inwoners intrek sonder enige wetlike prosedures.

Berekeninge word ook nie gedoen nie om vas te stel wat dit die munisipaliteit kos om water- en sanitasiedienste te lewer en geen behoorlike data bestaan wat gebruik kan word om die koste te bereken sodat die regte tariewe daarvoor ingestel kan word nie.

Die koste om gratis dienste te lewer, word al hoe groter en al hoe meer mense trek ook na informele nedersettings.

Al hoe meer onwettige grondbesettings vind ook plaas wat beplande ontwikkelings bedreig en wat beteken dat die munisipaliteit al hoe minder beheer kan toepas.

In die verslag word genoem die munisipaliteit het pogings begin aanwend om sy skuld te begin afbetaal, onder meer 'n betalingsooreenkoms van R10 miljoen per maand aan Eskom om agterstallige skuld van R65 miljoen te delg. Die munisipaliteit moet ook 'n onbestede bedrag geld van R50,4 miljoen aan die nasionale tesourie terugbetaal.

Die begraafplase in die verskillende dorpe van die munisipaliteit is oorvol, word sleg in stand gehou en het nie geriewe vir besoekers nie. Die Grabouw-begraafplaas is heeltemal vol.

Met die reddingsplan word beoog om:

• Onreëlmatige uitgawes te ondersoek binne 'n vasgestelde tydsraamwerk;

• Maatreëls in te stel om tenders wat onwettig toegeken is, te kanselleer en as alternatief moet die raad 'n regsmening inwin om maatreëls in te stel dat skriftelike redes gegee moet word waarom 'n bepaalde tender nie gekanselleer of hersien moet word nie;

• Enige onwettige bevorderings van amptenare of die opgradering van posvlakke te ondersoek en reg te stel, en die kontrakte van tydelike amptenare na te gaan;

• Die beleid vir oortydbetalings te hersien en 'n stelsel in te stel om die oortydure van beamptes na te gaan;

• 'n Omvangryke oudit van amptenare se verlof te doen en die oorsaak van die grootskaalse siekverlof te ondersoek. Die beleid oor mediese verlof moet kristalhelder wees vir amptenare, onder meer lidmaatskap van mediese fondse en die nagevolge indien nie daaraan voldoen word nie;

• Die waterbesparings- en bestuursplan af te handel en stappe te doen om water wat verlore gaan, te verminder. Watermeters moet nagegaan word en die data oor die inkomste uit die verkoop van water, foutiewe rekeninge en die niebetaling vir water moet hersien word; en

• Volgens die reddingsplan behoort die munisipaliteit se geldsake binne sowat vyf jaar te stabiliseer indien die plan streng gevolg word.

• Lees die volledige reddingsplan by twk.gov.za.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM