‘Old Righteous Blues’ SA se inskrywing vir Oscars

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Kersfeeskoor en -orkes in ’n toneel uit ‘Old Righteous Blues’. Regs is Kevin Smith.  Foto: kykNET
’n Kersfeeskoor en -orkes in ’n toneel uit ‘Old Righteous Blues’. Regs is Kevin Smith. Foto: kykNET

Suid-Afrika se amptelike inskrywing vir die 97ste Oscar-resies is die rolprent Old Righteous Blues.

In die rolprent word die ryk kultuurtradisie van Wes-Kaapse Kersfeeskore en -orkeste gevier. Dit speel in die Bolandse dorp Robertson af. Dit kan as 'n Romeo en Juliet-verhaal beskryf word.

Die rolprent, wat deur Muneera Sallies geregisseer is, gaan in die kategorie vir beste internasionale rolprent meeding.

Dit is die verhaal van Hantjie, vertolk deur Ayden Croy, wat sy Kerskoor se nuwe tamboermajoor wil word. Die koor se leiers meen hy is nie van die regte stoffasie gemaak daarvoor nie. Dan klop sy hart boonop al hoe harder vir die opposisie-koorleier se dogter. Megan Saayman is in dié rol te sien. Die akteurs Kevin Smith, Simon Bruinders en Ivan Abrahams is ook daarin te sien.

Die nuus is pas deur die Nasionale Rolprent-en-videostigting (NFVF) bekend gemaak. Suid-Afrika het die Oscar in die kategorie in 2006 met Gavin Hood se Tsotsi gewen. Die regisseur Darrell James Roodt se Yesterday is die enigste ander rolprent wat tot nog toe in die kategorie benoem is. Oliver Schmitz se Life, Above All het die kortlys in 2010 gehaal, sowel as The Wound van John Trengove in 2017.

Die besluit om Old Righteous Blues voor te lê, is deur 'n spesiale komitee, saamgestel uit leiers in die rolprent- en televisiebedryf, geneem ná 'n beoordelingsproses volgens die kriteria voorgelê deur die Academy of Motion Picture Sciences, wat die Oscars behartig.

Die rolprent het verlede jaar op die kykNET Silwerskermfees gedebuteer, waar dit onder meer vereer is vir klankbaan en produksieontwerp. Die akteur Joshwin Dyson is ook as beste byspeler vereer vir sy spel daarin.

Dit het ook uitstekend gevaar op internasionale rolprentfeeste.

Suid-Afrika moet nou asem ophou tot 17 Desember, wanneer die lys van 10 bekend gemaak word en dan op 17 Januarie die finale topvyf.

LEES OOK | 'Old Righteous Blues' bring Wes-Kaapse musiektradisie na die silwerdoek

SPELETJIES VANDAG

CTA