Boere langs die Vaal- en Oranjerivier moet paraat wees omdat die riviervlakke die komende week kan styg nadat agt sluise van die Vaaldam Dinsdag ná swaar reën in die dam se opvangsgebied oopgemaak is.
Die uitvloei is Maandag geleidelik tot ongeveer 700 kumek (m³ per sekonde) verhoog, sê Amogelang Moholeng, woordvoerder van die departement van water en sanitasie (DWS).
By die Bloemhofdam was die uitvloei Maandag om 10:00 van 120 kumek tot 250 kumek verhoog en later die dag tot 400 kumek.
Moholeng sê die stappe is gedoen te midde van stygende watervlakke in albei die damme weens die volgehoue reën in Gauteng en Mpumalanga, sowel as in ander dele van die land.
“Die Vaaldam en Bloemhofdam het onderskeidelik 108,47% en 99,81% se kapasiteit Maandagoggend aangeteken,” sê Moholeng.
Die departement waarsku dat die Vaal- en Oranjerivier stroomaf hul oewers kan oorstroom.
“Dit kan infrastruktuur in laerliggende gebiede binne die vloedvlakte raak, en gemeenskappe word versoek om waaksaam te wees vir stygende water,” sê Moholeng.
Die DWS waarsku dat gemeenskappe in die Vaaldriehoek, Parys en ander laerliggende gebiede naby die rivier uiters versigtig moet wees.
“Boere met pompe en infrastruktuur naby die rivier word aangeraai om voorsorgmaatreëls te tref om hul eiendom te beskerm. Inwoners aan die oewers van die Vaalrivier word ook versoek om waardevolle toerusting, beweegbare infrastruktuur en vee te verskuif, aangesien die watervlakke steeds kan styg,” sê Moholeng.
Hy sê die sluise is in ooreenstemming met veiligheidsregulasies oopgemaak vir beheerde wateruitlate wanneer die damvlakke vinnig styg.
“Dit is noodsaaklik om waterhulpbron-infrastruktuur te beskerm en te voorkom dat damme bars, wat rampspoedige gevolge kan hê.”
Moholeng sê die departement doen hierdie stappe as deel van sy veiligheidsmaatreëls om infrastruktuur te beskerm en lewens te beveilig.
Die DWS sal die invloei en watervlakke by die Vaal- en Bloemhofdam fyn dophou, sê Moholeng.




















