Omgewing

Boom val man dood toe groot storm Augrabies tref

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die stofstorm wat die erge hael- en reënstorm voorafgegaan het en wat groot skade in Augrabies in die Noord-Kaap aangerig het.Foto: Verskaf
Die stofstorm wat die erge hael- en reënstorm voorafgegaan het en wat groot skade in Augrabies in die Noord-Kaap aangerig het.Foto: Verskaf

'n Inwoner van Augrabies is dood en talle huise, ander infrastruktuur en gewasse is erg beskadig toe 'n massiewe storm met hael en reën, wat deur 'n geweldige stofstorm voorafgegaan is, deur dié Noord-Kaapse dorpie geskeur het.

Die 39-jarige inwoner is Dinsdag dood toe hy gehardloop het om onder 'n boom te gaan skuil, maar die boom deur die stormwind omgewaai is en dit op die man geval het, sê sers. Timothy Sam, 'n polisiewoordvoerder.

'n Stoor is ook deur die storm platgevee. Foto: Verskaf
'n Stoor is ook deur die storm platgevee. Foto: Verskaf

Die man is deur die Kakamas-nooddienste op die toneel dood verklaar. Sy naam kan nog nie bekend gemaak word nie.

Sterk en warm wind het in 'n wye gebied tussen Pofadder en Upington gewaai voordat die stofstorm omstreeks 16:20 uit 'n noordwestelike rigting Augrabies getref het.

Afdakke het meegegee en motors is beskadig. Foto: Verskaf
Afdakke het meegegee en motors is beskadig. Foto: Verskaf

Die dakke van talle inwoners se huise is afgeruk, terwyl afdakke op motors ingeval het en bome ontwortel is.

Boere in die omgewing het erge skade aan gewasse soos mielies en wingerde gely.

Benewens die sterk wind en reën het hael ook die gebied getref.

'n Boer van Augrabies sê die skade aan sy mielielande is 80%.

Talle bome is ten tyde van die storm ontwortel. Foto: Verskaf
Talle bome is ten tyde van die storm ontwortel. Foto: Verskaf

Hy sê boere in die omgewing het tot 50%-skade aan hul wingerde vir wyn- en rosyntjiedruiwe opgedoen.

"Ons het Maandag begin oes. Dit is 'n geweldige verlies en 'n gatslag."

Boere het vanjaar baie uitgesien na 'n goeie oes, en dit hét baie belowend gelyk ná die afgelope drie jaar se oeste wat ernstig deur vloed- en weerstoestande belemmer is.

Nog skade wat deur die storm in Augrabies aangerig is. Foto: Verskaf
Nog skade wat deur die storm in Augrabies aangerig is. Foto: Verskaf

Wilco Fourie, voorsitter van die Oranjerivier Landbou-unie (Orlu), sê boere en inwoners van Augrabies het nou 'n paar groot uitdagings. "Hulle gaan minstens drie dae sonder krag wees en die dorp is as gevolg daarvan ook sonder water."

Hy sê dit lyk tans of 'n derde van die oes verwoes is.

'n Groot boom wat deur die storm in Augrabies omgewaai is. Foto: Verskaf
'n Groot boom wat deur die storm in Augrabies omgewaai is. Foto: Verskaf

"Die strukturele skade in die dorp is enorm, maar die strukturele skade aan die wingerde is minder, hoewel daar 'n blok is wat heel plat gewaai het."

Hy sê boere het 'n goeie oes met goeie pryse baie nodig ná drie misoeste in 2021, 2022 en 2023.

"2024 was wel 'n goeie oes, maar kan nie vergoed vir die vorige drie jaar se skade nie. Daarom was hierdie oes baie nodig."

- anena.burger@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM