Omgewing

God’s Window-donderstorm: 25 voertuie onklaar

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
KYK | Donderstorm by God’s Window bars bande (mandisa.maphisa@media24.com)

Die hewige donderstorm wat Vrydagmiddag die God’s Window-uitkykpunt in Mpumalanga omstreeks 15:30 getref het, het veroorsaak dat 25 voertuie onklaar geraak, bande gebars en dat mense vermoedelik flou geword het.

Die donderstorm het gepaardgegaan met hewige weerligstrale en swaar reën.

“Omtrent 25 voertuie is deur weerlig getref in ’n donderstorm wat minder as 20 minute geduur het,” sê Thomas Msiza, woordvoerder van die Mpumalanga-toerisme-en-parke-agentskap (MTPA).

Van die 25 voertuie is een direk aan die bestuurderskant getref en het gebrand, ander het elektriese foute gehad en kon nie aanskakel nie en sommige se bande het gebars, sê hy.

Volgens Msiza was daar net twee ongevalle, ’n stalletjie-eienaar en haar dogter. Hulle is na die Sabi-hospitaal geneem, waar die ma Vrydag ontslaan is. Haar dogter het Maandag gewag op ’n brief van die dokter om ontslaan te word.

Yolande Everton de Klerk het Vrydagmiddag die donderstorm eerstehands beleef. De Klerk, haar man, Eduan, en hul twee kinders het die uitkykpunt saam met twee van hul vriende, Madelaine en Le Roux Louw, en hul dogters besoek.

Die binnekant van die Ford Ranger-bakkie wat Vrydag aan die brand geslaan het.
Die binnekant van die Ford Ranger-bakkie wat Vrydag aan die brand geslaan het. (Foto: David Molemo Radebe)

De Klerk en haar gesin, tesame met hul vriende se kinders, het na die parkeerterrein begin beweeg toe die weer “dreun”. Dit het toe hard begin reën.

Hulle het tot op die parkeerterrein gedrafstap en skuiling gevind in ’n stalletjie met ’n sinkdak. Die stalletjie-eienaar was saam met hulle.

De Klerk sê daar is toe ’n “helse slag” en alles was wit voor haar. “Die hardste slag wat ek al ooit gehoor het.”

Sy kyk toe om na die kinders, en sien haar man en die stalletjie-eienaar lê op die grond. Sy vermoed hulle het flou geword weens die blitse en weerligstrale.

“Die stalletjieman het vinnig opgestaan en my man gehelp. My man het nog ’n ruk op die vloer gesit en sy kop en ore vasgehou.”

De Klerk het toe die bakkie nader geparkeer en sy en haar man het die kinders by die kappie ingelaai. Dis toe dat Madelaine en Le Roux by die parkeerterrein aankom en vertel dat hulle ook flou geword het.

“Hulle sê dis soos iets wat jou bene onder jou uitruk. Jy sien ’n wit blits, dan lê jy.”

De Klerk sê almal is gelukkig orraait. Haar man het ’n erge hoofpyn gehad en Madelaine het gekla oor ’n gesuis in haar ore.

David Molemo Radebe het ook Vrydagmiddag die storm ervaar. Hy was saam met ’n groep hoër op teen die uitkykpunt en verder van die parkeerterrein af toe die storm tref.

“Ons het donderslae gehoor, in ’n stadium rook geruik en gehoor hoe die voertuie se alarms afgaan. Ons het wel nie gedink dis so erg nie.”

Verskeie voertuie wou ná die donderstorm nie aanskakel nie.
Verskeie voertuie wou ná die donderstorm nie aanskakel nie. (Foto: David Molemo Radebe)

By die parkeerterrein aangekom, het Radebe gesien hoe mense sukkel om hul voertuie aan te skakel, ’n voertuig wat gebrand het en gate in die grond en teer wat deur die weerlig veroorsaak is.

“Die kombinasie van somerhitte, vog en sterk opheffing langs die platorand beteken dat die Graskop-God’s Window-streek dikwels in ’n weerlig-brandpunt val,” sê Michelle du Plessis, meteoroloog van Vox Weather.

“Uitkykpunte is tipies hoog, oop en met geïsoleerde voorwerpe (heinings, bome, paaltjies) wat as voorkeurgeleiers optree, dus is die kanse op ’n trefslag of gevaarlike naby-trefslag aansienlik groter as in ’n beboude, laerliggende gebied.”

Du Plessis verduidelik dat mense soms verwys na ’n “elektriese storm” wanneer die klem spesifiek op baie weerlig is. “ ’n Donderstorm is die weerstelsel self. Tegnies bly dit dieselfde weerverskynsel.”

Die MTPA het verskeie toeriste en Suid-Afrikaners ondersteun deur vervoer aan te bied. Die meerderheid van die voertuie is weggesleep deur hul versekering se voorkeur-insleepdiens.

Die MTPA het vir ’n gesin van Gauteng vervoer en verblyf by die Graskop-hotel gereël aangesien die gesin nie kon terugry nie. Die gesin het ongelukkig nie versekering gehad nie en hul voertuig moes by die Graskop-hotel op ’n sleepwa veilig bewaar word.

– christinet.zaal@media24.com

christinet zaal

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM