Die Twee Oseane-akwarium in Kaapstad het die nuwe jaar ingelui met die redding van ’n reusagtige sonvis – sy grootste een tot nogtoe .
’n Verklaring lui dat die akwarium se eenheid vir natuurlewe ’n oproep van Johan Coetzee, die dokmeester, ontvang het oor ’n “reusagtige sonvis” wat ongeveer 1 ton weeg.
Die vis was vasgevang in die Sturrock-droogdok by die hawe in Kaapstad.
Martine Viljoen, bestuurder van die eenheid vir natuurlewe, sê die vis was ’n treffende herinnering aan hoe groot hierdie diere kan raak en ’n “kragtige manier om die nuwe jaar te begin”.

Die dok se dreinering is onmiddellik gestaak om te verseker dat genoeg water oornag vir die sonvis oorbly.
Viljoen se span het die volgende oggend, op Nuwejaarsdag, omstreeks 09:30 gereageer.
Die sonvis was 2,32 m in lengte en 2,5 m van vin tot vin gemeet. Dit was die swaarste sonvis wat die span tot nog toe moes red.
Wees die grootte moes die span ’n pasgemaakte reddingsdraagbaar-platform bou. Die droogdok-span het gehelp. ’n Kraan is ook gebruik.
Die reddingsplatform is deur die kraan in die droogdok gesak, wat die akwarium-span in staat gestel het om die sonvis daarop te lei.

Die vis is toe uit die droogdok gelig en neergelaat in die water aan die ander kant van die dryfhek.
Volgens Viljoen is die sonvis se asemhaling regdeur die proses gemonitor. Daar is ook verseker dat water oor sy kieue beweeg.
Die span het ná die vrylating self in die water in die dok-area geklim om die voorwerpe te verwyder wat die sonvis vasgepen het. Daarna is die sonvis na dieper water begelei voordat dit veilig weggeswem het.
















