Omgewing

Kees kies koers deur Northcliff

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die bobbejaan is onder meer in Lawleystraat, Northcliff, gewaar.  Foto: Facebook
Die bobbejaan is onder meer in Lawleystraat, Northcliff, gewaar. Foto: Facebook

'n Bobbejaanmannetjie het sosiale media aan die gons nadat inwoners van Northcliff in Johannesburg dié kees in hul strate gewaar het.

Cora Bailey, eienaar van die plaaslike dierebeskermingsorganisasie CLAW, oftewel Community-Led Animal Welfare, sê sy en haar span volg die bobbejaan nou al geruime tyd en hoop om hom so gou moontlik te vang en na 'n veiliger tuiste te verskuif.

Hy is vir die eerste keer in die Magaliesberg-omgewing naby die Wieg van die Mensdom gewaar en sedertdien het hy sy weg tot in die Johannesburgse voorstede gevind.

"Dit is nie 'n vreemde verskynsel nie," sê Bailey.

"Bobbejaanmannetjies verlaat dikwels hul trop wanneer hulle 'n sekere stadium van volwassenheid bereik en dan is hulle op hulself aangewese totdat hulle moontlik by 'n volgende trop kan aansluit."

Dit is moontlik wat met dié mannetjie gebeur het.

Die bobbejaan word deur die CLAW-span gevolg sodat hulle hom kan vang en hy veilig hervestig kan word.   Foto: Facebook
Die bobbejaan word deur die CLAW-span gevolg sodat hulle hom kan vang en hy veilig hervestig kan word. Foto: Facebook

Bailey en haar span doen 'n beroep op die plaaslike gemeenskap om hulle te help om die bobbejaanmannetjie se bewegings te monitor.

"CLAW het twee WhatsApp-groepe waarop ons foto's en video's van die bobbejaan deel en hom volg. Ons vra inwoners van Northcliff en omliggende gebiede om by hierdie groepe aan te sluit en ons te help om die bobbejaan op te spoor."

Bailey sê hoewel mense op hul hoede moet wees en seker maak dat hulle en hul troeteldiere veilig is, moet hulle ook besef dat die bobbejaan "manalleen" is en tien teen een banger is vir die wêreld waarin hy hom tans bevind as wat 'n mens dalk besef.

CLAW spits hom toe op die welstand van diere in minder gegoede woonbuurte.

"Deur ons werk het ons deur die jare goed bevriend geraak met die plaaslike Dierebeskermingsvereniging en Johannesburg Wildlife. As ons die bobbejaan gevang kan kry, kan ons hom veilig oorhandig aan Johannesburg Wildlife wat sal sorg dat hy veilig verskuif word."

- fc.pelser@media24.com

Suburban Control Centre het op sosiale media inwoners gemaan om versigtig te wees. Kontak SCC of CLAW indien jy die bobbejaan gewaar.  Foto: Facebook
Suburban Control Centre het op sosiale media inwoners gemaan om versigtig te wees. Kontak SCC of CLAW indien jy die bobbejaan gewaar. Foto: Facebook

fc.pelser@media24.com

FC Pelser

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM