Omgewing

Kersvader bring vanjaar somerreën saam

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Cobus Olivier
Cobus Olivier (Foto: FC Pelser)

Transvalers het in die ou dae geglo wanneer Oom Paul (Kruger) op 10 Oktober sy verjaardag vier, sal die eerste reëns van die seisoen val.

Dit blyk egter dat noemenswaardige reën vanjaar dalk eerder soos ’n geskenk in Kersvader se knapsak sal kom nadat die Suid-Afrikaanse Weerdiens sy seisoenale voorspelling bekend gemaak het.

Cobus Olivier, wetenskaplike by die weerdiens, sê hul jongste voorspelling dui op bogemiddelde reënval in die noordooste van die land, hoewel dit blyk dat dit eers teen die middel van die somer sal verskyn.

Hoewel hul span maandeliks langtermynvoorspellings bekend maak, is dit opvallend dat vandeesmaand se voorspelling reeds dui op “ ’n neiging na ’n swak La Niña”, sê Olivier.

’n Sogenaamde La Niña dui op koue en nat toestande teenoor die warm, droë El Niño, sê hy.

“Wanneer ’n sogenaamde La Niña plaasvind, is daar gewoonlik ’n maand of twee wat verby gaan voor dit ons in Suid-Afrika begin raak. Hoewel die El Niño suidelike ossillering (Enso)-stelsel steeds relatief neutraal is, dui inligting reeds daarop dat ons ’n swak La Niña kan verwag,” sê Olivier.

“Verlede maand was dit nog nie duidelik of die stelsel ’n groot impak op ons sou hê nie. Tog het die toestande in die Stille Oseaan, waar Enso plaasvind, oor die afgelope maand ’n redelike drastiese verandering ondergaan wat dui op ’n swak La Niña wat gaan inbeweeg.”

Die lentebloeisels het vanjaar vroeg gebot in Festivalstraat in Pretoria. Die weerdiens voorspel Suid-Afrikaners in die noorde van die land kan uitsien na milde reën in die somer.
Die lentebloeisels het vanjaar vroeg gebot in Festivalstraat in Pretoria. Die weerdiens voorspel Suid-Afrikaners in die noorde van die land kan uitsien na milde reën in die somer. (Foto: FC Pelser)

Die suidelike ossillering is ’n stelsel in die Stille Oseaan wat normaalweg wissel tussen ’n warm en koue fase, verduidelik hy. El Niño, die warm stelsel, is nadelig vir somerreënvalgebiede en sal waarskynlik tot ’n afname in reënval lei. Dit het hoofsaaklik net ’n noemenswaardige impak op die somerreënvalstreke in die noordooste van die land.

“Dié keer is ons egter vol vertroue dat La Niña sal plaasvind.”

Olivier meen daar is egter steeds onsekerheid oor die reënval vir Limpopo en Mpumalanga, met sommige dele wat blykbaar steeds ondergemiddelde reënval te wagte kan wees.

Vroeër reënval word egter in KwaZulu-Natal verwag. Volgens Olivier begin dit oor die algemeen in die provinsie in die vroeë lenteseisoen reën en dit blyk dat dit vanjaar steeds so sal wees.

Christien Engelbrecht van die Suid-Afrikaanse Weerdiens.
Christien Engelbrecht van die Suid-Afrikaanse Weerdiens. (Foto: FC Pelser)

Die La Niña-verskynsel bring volgens die weerdiens se kenners ook ’n groot moontlikheid van ondergemiddelde temperature in die somerreënvalstreke.

“Minimum en maksimum temperature sal gedurende die laat lente en somer na verwagting grootliks bo normaal wees in die meeste dele van die land, met ’n noemenswaardige uitsondering van maksimum temperature oor die suidwestelike kusgebiede wat ondernormaal sal wees.”

Reënplasse in Roperstraat in Pretoria het die reënseisoen vroeg begin aankondig teen die einde van September.
Reënplasse in Roperstraat in Pretoria het die reënseisoen vroeg begin aankondig teen die einde van September. (Foto: FC Pelser)

Christien Engelbrecht van die weerdiens meen dit is steeds belangrik vir Jan en San Alleman om weervoorspellings meer gereeld dop te hou om ’n meer akkurate prentjie te kry.

“Omdat langtermynvoorspellings wisselvallig kan wees, is dit belangrik om gereëlde korttermynvoorspellings dop te hou,” sê sy.

Aangesien die oorgang tussen die winter- en somerseisoen jaarliks wisselvallig is, raak dit soms moeilik om akkuraat te voorspel, sê Engelbrecht.

“Alle tekens dui egter steeds op ’n goeie reënseisoen vir die noordooste.”

Volgens Engelbrecht blyk dit dat die jongste voorspelling ook goeie nuus vir die sentrale binneland inhou met bogemiddelde reën wat in die Vrystaat en oor groot dele van Noordwes verwag word.

“Ons monitor daagliks die weer en klimaatverskynsels en wil Suid-Afrikaners aanmoedig om gereeld die weervoorspellings dop te hou.”

– fc.pelser@media24.com

fc pelser

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM