Vrystaters en Noord-Kapenaars moet gereed maak vir 'n kouefront wat teen einde vandeesweek oor dié twee provinsies heen sal inbeweeg.
So sê Johan van den Berg, onafhanklike weerkundige van die Vrystaat.
Van den Berg sê voorts die Vrystaat sal tot Donderdag bewolk wees.
" 'n Paar koue nagte lê later vandeesweek vir die Vrystaat en Noord-Kaap voor," sê Van den Berg.
Hy sê die Oos-Vrystaat sal veral die naweek koue temperature ervaar.
Donderdag en Vrydag sal minimum temperature in baie dorpe in die Noord-Kaap tot by vriespunt daal.
Geen reën word egter vir die Noord-Kaap of die Vrystaat vir die res van vandeesweek verwag nie.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het waarskuwings uitgereik vir Maandag en Dinsdag om inwoners teen moontlike wegholveldbrande te waarsku.
Die weerdiens sê dié brande kan vinnig ontwikkel en versprei.

Sneeu word ook teen Donderdag in die Oos-Kaap en hoogliggende dele van Lesotho verwag.
Die Gariepdam was teen Sondag 99,39% vol ná verlede week se reën en water het teen Sondagmiddag oor die dam se wal geloop.
Ondanks hoër temperature die afgelope twee weke sê Van den Berg die Vrystaat en die Noord-Kaap is nog nie op die lente se voorstoep nie.
Temperature styg gewoonlik in die tydperk tussen twee frontale stelsels, sê hy.
Die lente sal na verwagting eers teen einde September in die Noord-Kaap en die Vrystaat aanklop.
Vir die volgende week sal minimum temperature in Bloemfontein wissel tussen -2 °C en 5 °C. Die maksimum temperature vir die Rosestad sal tussen 10 °C en 17 °C wissel.
Minimum temperature vir die volgende week in Wepener sal wissel tussen -3 °C en 3 °C, en maksimum temperature tussen 9 °C en 17 °C.
Die verwagte minimum en maksimum temperature vir die res van vandeesweek in Calvinia is 2 °C tot 19 °C, in Ficksburg is dit -4 °C tot 13 °C en in Springbok -2 °C tot 16 °C.




















